Haven in die nood

Die Haven Zoological Park wat in Kleine Kuppe geleë is, is ’n heerlike plek van ontspanning vir vriende en familie, en voeg ook waarde toe tot skole en die gemeenskap. Maar, om hulle deure oop te hou, het hulle dringend donasies nodig.
Die dieretuin is in 2007 deur Martin en Julie Wiese begin. Dit was vir hulle ’n droom wat toe uiteindelik waar geword het. Hulle doel was om ’n plaasatmosfeer in die stad te skep sodat leerlinge, minderbevoorregtes en gesinne ’n plaasatmosfeer kon ervaar, interaksie met diere te leer en meer.
Die dieretuin bied reeds verskeie aktiwiteite aan soos ponieritte op markdae, gesigverf en ook koekieversiering. Daar is ook verskeie interessante diere wat van nader “ontmoet” kan word soos die blouapies en ’n alpakka.
Ongelukkig het Covid-19 die dieretuin lamgelê en is dit geweldig uitdagend om dinge weer aan die gang te kry.
Twee matriekleerlinge van die Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Phillip Loteryman en Armand Bergh, het ’n projek aangepak om die dieretuin weer suksesvol te maak, en meer aktiwiteite vir die gemeenskap aan te bied.
Sedert Februarie, het hulle reeds twee boeremarkte gereël wat suksesvol verloop het.
Phillip en Armand sê dit sal hartseer wees as só ’n plek moet toemaak. “Daarom gaan ons, saam met die eienaars, alles in ons vermoë doen om hierdie dieretuin weer op standaard te bring. Dit is ’n plek waar skole hul leerlinge kan neem om fisiese interaksie te hê met diere en waar vriende en familie in die buitelug tyd saam kan deurbring.
“Ons voel die dieretuin is daar vir die gemeenskap, en wil graag sien dat die gemeenskap ’n handjie bysit om die geriewe weer op standaard te bring. In hierdie lig het ons ’n rekening by Bank Windhoek geopen wat streng beheer word, en vra dat mense asseblief, al is dit net N$10, in die rekening kan deponeer. Ons wil baie graag die kafee heropen en meer aktiwiteite aan te bied. Ons gaan voortaan probeer om elke maand ten minste twee aktiwiteite te reël om die dieretuin se inkomste te laat groei.”
Gaan besoek gerus die Facebook-blad “Haven Zoological Park” vir meer inligting. Indien daar enige navrae, skakel gerus vir Phillip by 081 660 1807.
Die Bank Windhoek rekening is 8026057219, takkode: 483-871.