’n Hawe vir woef en kiets
By die Gobabis Dierewelsynsorganisasie (GAR) het een persoon se groot hart, ’n hawe vir sowat 80 honde en katte gebied.Annelise Langenhoven, GAR se stiger, sê dit is belangrik om ’n stem te wees vir die wat nie een het nie. “Die grootste probleem wat ons op Gobabis ondervind, is mense wat trek en hulle diere net daar los,” sê sy. “Ek verstaan dit nie, maar dit gebeur.”
Tydens die onderhoud loop ’n dragtige ooi verby ons en sy verduidelik dat die ooi melk aan die diere verskaf. “Die bokke behoort aan my, maar dit is ’n baie goedkoper manier om melk te voorsien,” lag sy.
Die diere wat tans in haar sorg is, kan aangeneem word.
“Dit is onderhewig aan ’n huisinspeksie sodat ons kan seker maak die diere kry ’n liefdevolle huis,” verduidelik sy.
Die aanneming is ook oop vir mense buite Gobabis. “Ons het al baie honde en katte met geleenthede na ander dorpe vervoer.”
Die aannemingskoste is N$950 per hond en N$700 vir katte. Die GAR steun op skenkings van komberse en kos tot finansiële hulp. Indien jy ’n skenking wil maak of ’n troeteldier wil aanneem, kan jy Annelise by 081 628 9274 kontak.