Namibië aangemoedig om gebaretaal te erken

Ellanie Smit
Namibië moet ernstig daaraan werk om gebaretaal in die land te erken en te bevorder, sê die adjunkminister van gestremdheidsake, Alexia Manombe-Ncube.
“As ons nie gebaretaal leer nie, ontneem ons 27 000 Namibiërs van die vermoë om met ons te kommunikeer in ons huise, die parlement, politieke partye, skole, gemeenskappe, kerke, winkels, hospitale, klinieke, howe, polisiekantore en hoëronderwysinstellings, om maar ’n paar te noem,” het sy gesê.
Sy het hierdie opmerkings gemaak tydens die bekendstelling van die Internasionale Dag van Gebaretaal. September is Internasionale Bewusmakingsmaand vir Dowes en elke jaar word die Internasionale Week van Dowes vanaf 19 September tot 23 September herdenk.
Die week fokus op die bevordering van die positiewe aspekte van doofheid en die aanmoediging van sosiale insluiting. Elke dag gedurende die week het ’n spesifieke tema en fokus, en verlede Maandag was dit “Gebaretale in Onderwys”.
Manombe-Ncube het gesê hierdie tema fokus op die aanleer van gebaretaal aangesien dit van kritieke belang is vir die kognitiewe en sosiale ontwikkeling van dowe kinders. “Dit is belangrik vir die hele gesin om gebaretaal te leer aangesien baie dowe kinders in gesinne gebore word wat nie doof is nie. Dus moet dienste in plek wees om gebaretaalleer en ondersteuning aan gesinne te bied sodat hulle gebaretaal kan leer en gebruik by die huis. Dit maak dit maklik om met die dowe kinders te kommunikeer en help hulle met opvoedkundige aktiwiteite.”
Sy het gesê sentrums vir vroeë kinderontwikkeling (ECDs) moet toegerus word met gebaretaal, gesproke en visuele materiaal.
Wettige taalgebruik
Manombe-Ncube het bygevoeg dat gebaretaal ’n wettige taal in eie reg is, met sy eie sintaksis, morfologie en struktuur. “Dit is ’n kommunikasietaal in alle omgewings - van opvoedkundige tot politieke vlakke.”
Hierdie feit is aanvaar en verorden in Artikel 2 van die Verenigde Nasies se konvensie oor die regte van mense met gestremdhede, wat gebaretaal as gelykstaande aan gesproke taal definieer, het sy gesê.
Die konvensie beklemtoon dat sonder om linguistiese regte van dowe studente te respekteer, hul menseregte nie nagekom kan word nie, het Manombe-Ncube bygevoeg.
“As die Namibiese regering moet ons die nodige stappe doen vir die amptelike erkenning van Namibiese Gebaretaal (NSL). Ons moet met die Namibiese Nasionale Vereniging van Dowes (NNAD) saamwerk om hierdie doelwit te bereik.”
Sy het gesê in die erkenning van NSL en deur te verseker dat wetgewing dowe mense se taalregte insluit, moet wette en dekrete in plek gestel word wat toegang tot onderwys, tolking, inligting, indiensneming van dowe burgers en die bevordering van gebaretaal en dowe kultuur waarborg.
Die Namibia College of Open Learning (Namcol) bied nou ’n tweejaar diplomakursus in gebaretaaltolking aan, het sy bygevoeg. Om te kwalifiseer, moet jy basiese gebaretaalvaardigheid hê, wat deur NNAD-opleiding verwerf kan word.