Vroue verfraai nog ’n bushalte

Iréne-Mari van der Walt
Lede van die Namibiese Vrouevereniging (NVV) se Lekker Lag-tak, doen dit weer.
Hulle het die afgelope naweek weer eens hul verf en kwaste opgetel om ’n bushalte in Dr Kwame Nkrumahstraat in die hoofstad ’n nuwe baadjie te gee. Hulle het onlangs ook ’n bushalte in Coetzeestraat, Pionierspark, verfraai.
“Kyk hoe lyk ons bushaltes – hulle is verwaarloos en gebreek. Ek dink hierdie bring ’n bietjie positiwiteit terug na die gemeenskap,” sê Celine Rust, ’n lid van die groep.
Sy sê dit is die tak se deel ter ondersteuning van die NVV se projek vir vanjaar onder die vaandel “Bewoon, bewerk, bewaar”.
Rust sê ’n plaaslike sakeman, Herman Davin, het die verf geborg en hy het selfs hand bygesit met die verfwerk.
“Ons kry uitstekende terugvoering en ons wil graag die ander spanne uitdaag om dit ook aan te pak,” het Rust gesê.