Afrika-nasies wil presteer in Parys

Paralimpiese Spele
'n Wye verskeidenheid sportkodes word by die naderende Paralimpiese Spele aangebied.
Tielman Van Lill
By die 2021 Tokio Paralimpiese Spele in Japan het elf Afrika-lande 'n totaal van 63 medaljes gewen, eweredig verdeel met 21 goud, 21 silwer en 21 brons.
Vier jaar tevore by 2016 Rio Para Spele in Brasilië was die totaal met 97 beduidend meer, wat 36 goues ingesluit het.
Die rede was voor die hand liggend, naamlik dat die Covid-19-pandemie die atlete se langtermynbeplanning vir 2020 (uitgestel tot 2021) in die wiele gery het.
In Tokio het Algerië, Tunisië, Marokko, Nigerië en Suid-Afrika 51 van die 63 medaljes opgeraap en kan dus as Afrika se swaargewigte in sport vir gestremdes gereken word. Die vier lande het elk vier goue medaljes in Tokio verwerf.
Namibië met een silwer en een brons in Tokio het meer gerekende Afrika-atletieklande soos Kenia en Uganda uitgestof.

Pure goud
Tunisië se Tlili Raoua het met dubbele goud en twee wêreldrekords in die F41-gewigstoot en diskusgooi geskiedenis gemaak. Haar landgenoot, Walid Ktila, het twee goues agter sy naam in die T34-100 meter en 800 handfietsresies gepen.
Suid-Afrika se Ntando Mahlangu het die T63-verspring gewen en ‘n wêreldrekord met 7.17 meter aangeteken. Sy tweede goud het hy in die T61-200 opgeraap.
Husnah Kukundakwe van Uganda was maar 14 jaar oud en die jongste atleet wie in Tokio deelgeneem het. Sy is ‘n swemmer en het die 100 borsslag getakel.

2020 Tokio-spele: Afrika-nasies se medaljetabel
28ste, Algerië (12) 4 goud, 4 silwer, 4 brons.
29ste, Tunisië (11) 4 goud, 5 silwer, 2 brons.
30ste, Marokko (11) 4 goud, 4 silwer, 3 brons.
33ste, Nigerië (10) 4 goud, 1 silwer, 5 brons.
34ste, Suid-Afrika (7) 4 goud, 1 silwer, 2 brons.
59ste, Ethiopië (1) 1 goud.
64ste, Egipte (7) 5 silwer, 2 brons.
71ste, Namibië (2) 1 silwer, 1 brons.
78ste, Kenia (1) 1 brons.
78ste, Uganda (1) 1 brons.

Afrika in die 2024-program in Parys
Blinde sokker vir mans (1 tot 7 September). Twee groepe van vier spanne elk. Marokko is in groep B teen Argentinië, Colombië en Japan.
Boccia (29 Augustus - 5 September). Vroue en mans enkelspel, gemengde parespel.
Doelbal (29 Augustus – 5 September). Egipte is in groep B teen China, Japan en Ukraïne.
Boogskiet (5 Augustus – 5 September).
Atletiek (30 Augustus – 8 September).
Pluimbal (29 Augustus – 2 September), vroue en mans enkelspel, dubbelspel en gemengde pare.
Kanovaart (6 – 8 September).
Baanfietsry (29 Augustus – 1 September).
Padfietsry (4 – 7 September), vroue en mans individuele tydtoets, gemengde aflos en padresies.
Ruitersport (3 – 7 September).
Judo (5 – 7 September).
Gewigoptel (4 – 8 September).
Roei (30 Augustus – 1 September).
Swem (29 Augustus – 7 September).
Tafeltennis (29 Augustus – 7 September), vroue en mans dubbelspel, gemengde enkel- en dubbelspel.
Taekwondo (29 – 31 Augustus) vir vroue en mans.
Triathlon (1 – 2 September) vir vroue en mans.
Luggeweer- en lugpistoolskiet (30 Augustus – 5 September) vir mans en vroue.
Sittende vlugbal (29 Augustus – 7 September). Rwanda se vroue is in groep B teen Brasilië, Kanada en Slovenië. Egipte se mans is in groep A teen Bosnië-Herzegowina, Frankryk en Kazakstan.
Rolstoelbasketbal (29 Augustus – 8 September).
Rolstoelskermkuns (7 – 7 September).
Rolstoelrugby (29 Augustus – 2 September).
Rolstoeltennis (vanaf 30 Augustus).
[email protected]