Afrikabeker-kompetisie was ’n goeie leerskool ? Allister Coetzee

Rugby
Otis Daniels
Die wen van ‘n bronsmedalje met ‘n groep plaaslike, jong en onervare spelers by die Rugby Afrika-bekertoernooi in Uganda voorspel goeie dinge vir Namibiese rugby.
“Om terug te keer met ‘n medalje is ‘n prestasie. Die toernooi was ‘n goeie leerskool. Ons weet nou wat ons moet doen en hoe ons dit gaan doen ten opsigte van ons kwalifisering vir die volgende Wêreldbeker in Australië in 2027,” het die direkteur van rugby en nasionale hoofafrigter, Allister Coetzee, gesê.
Hy het klem daarop gelê dat Namibië se mikpunt by die Afrikabeker was om spelers aan kompetisie op ‘n hoër vlak bloot te stel.
“Baie van ons spelers het die land vir die eerste keer verteenwoordig. Hulle het teen die bestes in Afrika gespeel en goeie selfvertroue en onskatbare ervaring opgedoen.”
Luidens Coetzee het die kompetisie ook ‘n goeie leerkurwe vir volgende jaar gebied met die Namibiese span wat diens moes doen sonder 16 spelers wat by die 2023 Wêreldbeker in Frankryk betrokke was.
“Dit is 16 baie ervare spelers en hul toevoeging sal ‘n betekenisvolle verskil in die span maak. Ondersteuners kan gerus wees dat die Namibiese span goed voorbereid sal wees met goeie diepte en met sy beste moontlike span na die Wêreldbeker-kwalifiserende toernooi sal gaan, wat ons in staat sal stel om vir ‘n agtste keer vir die 2027 Wêreldbeker te kwalifiseer wanneer ons dit wen.”
Hy het beklemtoon dat Zimbabwe, Kenia en ander Afrika-lande teen ‘n vinnige pas vorentoe beweeg ten opsigte van hul voorbereiding.
“Hulle het hul beste spanne by die toernooi gehad en ontwikkel vinniger as wat ons dink. Hul kondisionering is op ‘n beter en baie ho?r vlak. Die grootte van hul pakke is fenomenaal. Hulle het behoorlike atlete in die agterlyn met tempo en ons moet daarvan kennis neem.
“So vir ons en vir my is die bou van die ervaring en die skep van diepte vir die toekoms die regte ding om te doen.”
Betreffende Namibië se posisie-daling (24ste na 25ste) op Wêreldrugby se nuutste ranglys, het Coetzee gesê die posisie sal nie bepaal of die Welwitschias na die 2027 Wêreldbeker in Australië gaan nie.
“Ons moet volgende jaar die Rugby Afrika-beker wen. Dit beteken dat ons weer in vogtige toestande sal moet speel. Ons kom te staan teen Senegal in ons eerste wedstryd en het hulle eerstehands in aksie gesien. Hulle het hul beste span daar gehad en ons het ‘n idee wat vir ons wag."
Die spelers wat Namibië in Uganda verteenwoordig het, keer nou na hul onderskeie klubs terug. “Die NRU kyk tans na die organisering van aktiwiteite in November vir die nasionale spanspelers. Die ontbreking van toegang tot ‘n aansienlike bedrag geld van die NRU wat Wêreldrugby by Petrichor Capital belê het, beïnvloed egter ons planne negatief,” het die uitvoerende hoof van die NRU, John Heynes gesê.