Alfred pure goud in 100 vir Saint Lucia

Olimpiese Spele
Die Amerikaanse gunstelinge moes opsy staan vir die blits van Saint Lucia.
Tielman Van Lill
Die vroue 100 meter-finaal by die 2024 Olimpiese Spele in Parys het Saterdagaand een van die grootste opskuddings by die glorieryke byeenkoms opgelewer.
Die heersende 2023 wêreldkampioen en vinnigste vrou oor die 100 meter vir 2024 in 10.71 sekondes, Sha'carri Richardson van die VSA, is oortuigend deur Julien Alfred van Saint Lucia vir die goue medalje oorskadu.
Alfred het met 10.72 ook haar nasionale rekord van 10.78 oortef wat sy vroeg in Julie 2024 by die Diamantliga-byeenkoms in Monaco aangeteken het.
Richardson het in 10.87 die silwermedalje opgeraap, terwyl haar landgenoot Melissa Jefferson (10.92) die bronsmedalje verower het.
Richardson was gedurende die huidige seisoen onstuitbaar en was loshande die gunsteling om goud te behaal. Tia Clayton van Jamaika (11.04) het ‘n teleurstellende finaal beleef.
Marie-José Ta Lou-Smith van die Ivoorkus het in die uitdunne indrukwekkend met 10.87 gelyk, met Shelly-Ann Fraser-Pryce (10.92) kort op haar hakke in dieselfde resies. Fraser-Pryce het weens ‘n besering nie aan die semifinaal deelgeneem nie.
In die uitdunne het Brittanje se Daryll Neita (10.99) en Dina Asher-Smith (11.01) belofte getoon. In die semifinale het Neita en Asher-Smit onderskeidelik tweede met 10.97 en vyfde in 11.10 geëindig.
Ta Lou-Smith was tweede in haar semifinaal (11.01), maar was ongelukkig tydens die finaal beseer en het met 13.84 laaste geëindig. Neita kon slegs vierde (10.97) in die finaal eindig.

‘n Meesterstuk
Die 10 000-finaal vir mans was van die begin tot die einde ‘n elektries-gelaaide botsing waarin Joshua Cheptegei van Uganda met ‘n verstommende 26 minute 43.14 sekondes vir ‘n nuwe Olimpiese rekord sy teenstanders uitoorlê het.
Dié uitgeslape wêreldrekordhouer (26:11.00) het by tye agter die res van die atlete gehard en gelyk of hy sukkel om by te hou. Intussen het die Ethiopiese trio Aregawi Berihu (tweede, 26:43.44), Yomif Kejelcha (sesde) en Selemon Barega (sewende) deurgaans voor gehardloop en probeer om Cheptegei en die res van die veld te vernietig.
Cheptegei het egter in die pylvak tot snelrat oorgeskakel en met sy kenmerkende vaartversnelling die res van die veld agter gelaat. Grant Fisher van die VSA het kopgehou en ‘n uitstekende wedloop vir brons in 26:43.46 beleef. Hy het die hele wedloop agter die Ethiopiese trio gehardloop en is net voor die wenpaal deur Berihu verbygesteek.
Dertien van die 27 finaliste het vinniger as die ou Olimpiese rekord (27:01.17) geëindig en drie het gedurende die resies onttrek. Adriaan Wildschutt van Suid-Afrika het tiende met ‘n nasionale rekord in 26:50.64 klaargemaak.
• Ander Olimpiese individuele medalje-uitslae in atletiek vir die naweek
Driesprong (vroue): 1 Thea Lafond (15.02 m) Dominikaanse Republiek, 2 Shanieka Ricketts (14.87) Jamaika, 3 Jasmine Moore (14.67) VSA.
Gewigstoot (mans): 1 Ryan Crouser (22.90 m) en 2 Joe Kovacks (22.15) beide VSA, 3 Rajindra Campbell (22.15) Jamaika.
Gemengde 4x400 m-aflos: 1 Nederland (3 minte 7.43 sekondes), 2 VSA (3:07.74), 3 Brittanje (3:08.01).

Padfietsry
Remco Evenpoel het Saterdag sy tweede goue medalje vir die 2024 Spele verower toe hy die padfietsresies van 272 km gewen het.
Die 24-jarige Belg se eerste goud het hy in die individuele tydtoets opgeraap. Evenpoel het by die 2020 Spele in Japan aan die bergfietsresies deelgeneem waar hy geval en frakture opgedoen het.
Die medaljwenners: 1 Remco Evenpoel (België), 2 Valentin Madouas, 3 Christophe Laporte (beide Frankryk).

Gimnastiek
Trampolien (vroue): Goud Bryony Page (Brittanje), silwer Viyaleta Bardzilouskaya (Belarus), brons Sophiane Methot (Kanada).
Trampolien (mans): 1 Ivan Litvinovich (Belo-Rusland), 2 Wang Zisai (China), 3 Yan Langyu (China).
Vloerroetine (mans): 1 Carlos Edriel Yulo (Filippyne), 2 Artem Dolgopyat (Israel), 3 Jake Jarman (Brittanje).
Tuimel (vroue): 1 Simone Biles (VSA), 2 Rebeca Andrade (Brasilië), 3 Jade Carey (VSA).
Pommelperd (mans): 1 Rhys McClenaghan (Ierland), 2 Nariman Kurbanov (Kazakstan), 3 Stephen Nedoroscik (VSA).

Swem
Mans 50 m-vryslag: 1 Cameron McEvoy (Australië) 2 Benjamin Proud (Brittanje), 3 Florent Manaudou (Frankryk).
Vroue 200-rugslag: 1 Kaylee McKeown (Australië), 2 Regan Smith (VSA), 3 Kylie Masse (Kanada).
Vroue 200-wisselslag: 1 Summer McIntosh (Kanada), 2 Kate Douglas (VSA), 3 Kaylee McKeown (Australië).
Mans 200-wisselslag: 1 Leon Marchand (Frankryk), 2 Duncan Scott (Brittanje), 3 Shun Wang (China).
Mans 100-vlinderslag: 1 Milak Kristof (Hongarye), 2 Josh Liendo (Kanada) , 3 Ilya Kharun (Kanada).
Vroue 800-vryslag: 1 Kate Ledecky (VSA), 2 Ariarne Titmus (Australië), 3 Paige Madden (VSA).

Tafeltennis
Vroue-enkelspel: 1 Meng Chen (China). 2 Yingsha Sun (China), 3 Hina Hayata (Japan).
[email protected]