Beers in spesiale klein groep wat drie Epic-titels wen

Bergfietsry
Die onstuitbare Nederlander Anne Terpstra en die Switser Nicole Koller het vanjaar elk van die sewe skofte in die vrouetoer gewen.
Annchen Nel
Matthew Beers en Howard Grotts het Sondag derde geëindig in die laaste skof, maar dit was goed genoeg om as die 2024 Absa Cape Epic-wenners bekroon te word.
Beers bevind hom nou in die geselskap van die Switser Ariane Lüthi, wat ook drie titels op haar kerfstok het.
Die 30-jarige Beers was verlede jaar ook in die wenkamp saam met nog ‘n Amerikaner, Christop Blevins.
Die onstuitbare Nederlander Anne Terpstra en die Switser Nicole Koller het vanjaar elk van die sewe skofte gewen (die sewende in 3:32:07) en daarmee saam hul eerste Epic-vrouekroon.
Die span van Ghost Factory Racing het ’n droomdebuut in die ren gehad en van die begin tot die einde oorheers.
In die manswedren was Simon Schneller en Urs Huber (Bull Mavericks) die skofwenner in 2:52:08, met Fabian Rabensteiner en Samuele Porro (Wilier Vittoria Factory) tweede in 2:54:24 en Beers en Grotts (Toyota-Specialized-NinetyOne) derde in 2:55:16.
Beers sê hulle het aan die begin van die week probleme gehad, en moes daarom hard werk om so ‘n gemaklike voorsprong moontlik te kry.
“Ons het in ’n paar skofte tweede geëindig, so dit was spesiaal om Vrydag my eerste skof te kon wen, en dit is spesiaal in die geel trui.”
Beers het sy eerste titel in 2021 saam met die Fransman Jordan Sarrou gewen.
Grotts (31) het sy eerste titel in 2018 saam met Jaroslav Kulhavý van Tsjeggië gewen.
Beers en Grotts het algeheel ’n volle 11 minute voor die tweede span klaargemaak (Nino Schurter en Sebastian Fini, beide van Switserland, World Bicycle Relief), met Wout Alleman en Hans Becking (Buff-Megamo) derde op die podium in 25:33:53.
Beers sê die wedrenne is waarvoor die eliteryers oefen.
“Dit is spesiaal om in ’n klein elitegroepie te wees wat al drie titels kon wen en in daardie geselskap genoem te kan word.”
Beers sê sukses in die Epic help jou om raakgesien te word en “te kon kom in my loopbaan waar ek nou is”.
Die Kapenaar se gesin, asook dié van sy verloofde, was op Coetzenburg om in sy feesvieringe te deel.
Hoe spesiaal is dit om die Switserse legende Nino Schurter te klop?
“Nino is die beste bergfietsryer en jy weet as hy kom deelneem, gaan jy jou alles en meer moet gee, maak nie saak wie sy spanmaat is nie.
“Dit is altyd opwindend om met hom mee te ding. Ek sien uit daarna om hom in Olimpiese veldwedrenne te sien deelneem en dalk ’n Olimpiese medalje wen,” sê Beers.

VROUERESIES
Lill en Mona Mitterwallner (Cannondale Factory Racing) het in die laaste skof tweede geëindig in 3:36:52, met Vera Looser van Namibi en Alexis Skarda van die VSA (Efficient Infiniti SCB SRAM) derde in 3:40:09.
Lill sê hulle het opgedaag om te wen, maar ’n tweede plek in die uitdagende Epic is glad nie te versmaai nie.
“Dit was Mona se debuut en om dan tweede te eindig, is ’n groot prestasie. Ek is trots op ons span en dat ons elke oggend opgestaan en weer probeer het, al het ons nie die vorige dag die skof gewen nie.
“Die mededinging was erg kwaai – ek het al tevore tweede geëindig in wat ’n veel makliker wedren was. Ek is trots op ons prestasie,” sê Lill.
“Mona is 22 jaar oud en daar is soveel wat nog in haar loopbaan voorlê, en ek praat nie net van die Epic nie. Om die prestasie in haar eerste keer te kon vermag, is fantasties,” sê Lill.
Die Suid-Afrikaner was in 2019, 2021,2022 en 2023 óók die naaswenner.
Die Argentyn Sofia Gómez Villafañe en Samara Sheppard van Nieu-Seeland (Toyota-Specialized-Ninetyone) het algeheel derde klaargemaak.
• Philip Buys en Pieter du Toit (Pyga Euro Steel) het Sondag se skof in 26:48:07 in die negende plek geëindig en die afdeling vir Afrika-spanne gewen.
Matthys Beukes en Rossouw Bekker (Valley Electrical Titan Racing) was tweede en Arno du Toit en Herman Fourie (Insect Science) derde.
• Sarah Hill en Hayley Smith (#SheUntamed) was met ‘n algehele tyd van 36:44:24 die voorste Afrika-vrouespan. Steph Wohlters en Danielle Strydom (Efficient Infiniti Insure) was tweede en en Tarryn Povey en Kylie Hanekom (Cape Classic 380) derde.
• Volgende jaar se byeenkoms (www.epic-series.com/capeepic-riders-entryinfo) duur van 16 tot 23 Maart. Lotery-aansoeke het Maandag om 15:00 geopen.
Die eerste loting sal op 28 Maart begin en die tweede ronde op 31 Mei. Die koste vir ’n span is R113 750.
? Netwerk24