Beleerde Eagles met rug teen muur

Krieket
Tielman Van Lill
Namibië sal vandag met die rug teen die muur teen Skotland vir sy laaste Internasionale Eendagwedstryd van die ICC se 2024 – 2027 Krieketwêreldbeker Liga 2-kompetisie in Dundee op die veld stap.
Oman (197 lopies vir 6 paaltjies in 49.1 boulbeurte) het Woensdag teen alle verwagting in die Richelieu Eagles (196/9 in 50) met vier paaltjies geklop.
Dié ontnugtering het gekom nadat Namibië (234/4 in 47.5) verlede Donderdag vir Oman (233/8 in 50) in hul eerste ontmoeting met ses paaltjies verniel het.
Laas Donderdag het die Eagles se topvyf kolwers altesaam 212 lopies vir hul totaal van 234 bygedra. Woensdag was dit maar 137. As dit nie vir Malan Kruger op nommer vyf se puik 73 (90 balle, 6x4) was nie, was die kalf dieper in die put.
Behalwe Kruger was Michael van Lingen op een (40, 55 b, 7x4) en JJ Smit op ses (41, 75 b, 2x4, 1x6) die enigste kolwers wie daarwerklike goeie bydraes gelewer het. Die res van die topvyf is vir 12, 8 en 4 uitgehaal. JP Kotzé op ses was beslis daar om die Eagles se kolflys te verleng, maar is ongelukkig vir vyf uitgevang.
Boonop het Namibië opnuut 19 ekstra lopies afgestaan wat nege wydlopers, ses bylopies en vier loslopies insluit. Daarenteen het ‘n gedissiplineerde Oman slegs agt ekstras afgestaan (2 bylopies, 1 foutbal, 5 wydlopers) wat ‘n verskil van 11 lopies meer beteken wat die Eagles op een of ander manier moes verdedig, maar hulle kon nie daarin slaag nie wat hulle die wedstryd gekos het.
Die Eagle-boulers was glad nie duur nie. Inteendeel, Jack Brassel was teen 4.9 lopies per boulbeurt die duurste, maar oor tien boulbeurte uiters ekonomies. Tangeni Lungameni teen drie per boulbeurt oor tien was vrek suinig.
Brassell (2 paaltjies vir 49 in 10), Lungameni (1/30 in 10, 1 leeg) en Ben Shikongo (1/39 in 8) het paaltjies vir Namibië gevat. Oman het egter sewe leë boulbeurte afgestuur, terwyl Namibië twee bewerkstellig het.
Invergelyking met die Eagles se 137 lopies wat die topvyf kolwers bygedra het, het Oman se topvyf net 101 behaal. Aqib Ilyas op drie (68, 129 b, 5x4, 1x6) is die enigste topkolwer van Oman wie op peil was. Dit is egter Khalid Kail op ses (43, 55 b, 4x4, 1x6) en Shoaib Khan op sewe (26*, 38 b, 4x4) wat die wedstryd vir Oman gewen het.
Grenshoue: Oman 24 (18x4, 1x6), Namibië 24 (18x4, 1x6).
Al was die Eagle-boulers ekonomies en het hulle Oman in 21.2 op 94/4 gehad, kon hulle van die 23ste boulbeurt nie daarin slaag om ’n enkele paaltjie te laat val nie.
’n Kopseer
Namibië het tot dusver in drie kragmetings 81 ekstralopies teen Oman en Skotland afgestaan, terwyl die Eagles se teenstanders slegs 31 teen hulle het. – [email protected]