Buurlande toets mekaar by Farm Windhoek
Bergfietsry
Mededinging vir punte op die UCI-ranglys teen die Suid-Afrikaanse besoekers maak die byeenkoms selfs meer opwindend.
Die nuutste opwindende tweestryde tussen Namibië en Suid-Afrika – buurlande en strawwe mededingers wat mekaar op en van die baan respekteer – wag môre by Farm Windhoek in Otjiverostraat, Kleine Kuppe.Die Nedbank Rock & Rut veldren-bergfietsreeks se jaarlikse eerste byeenkoms dra die bykomende status dat deelnemers in die UCI-klasse (elite mans en vroue; o.23 mans en vroue; junior mans en vroue) punte op die wêreldranglys kan verdien.
Buurlande se ryers gryp dus die kans aan om in te skryf en hul posisies op die ranglys te verbeter.
Die Namibiërs het reeds laas naweek “byeenkoms Zero” op hierdie baan gehou om as ‘n losmaker vir die groter kompetisie en aanpassing by die werklike plaaslike toestande te dien.
“Suid-Afrika stuur ‘n groep van 21 ryers – die grootste groep nóg buiten vir ons land se vorige aanbiedings van die kontinentale Afrika-kampioenskappe in bergfietsry,” sê Brendan Dickerson, een van die plaaslike organiseerders.
Suid-Afrika is baie trots dat beide Alan Hatherly en Candice Lill tans die nommer een gekeurde veldren-bergfietsryers ter wêreld vir man en vroue is. Hierdie twee groot kanonne sal net soos Namibië se Alex Miller (tans nr. 93) en Vera Looser (ongekeur; meer toegespits op ander bergfietskodes) afwesig wees met ander professionele verpligtinge.
Namibië se belowende vooruitsig Roger Surén is tans die wêreld se nommer een ryer onder die junior mans (onder-18). Hy is ook die heersende Afrika-titelhouer in die ouderdomsgroep, net soos sy landgenoot Delsia Janse van Vuuren, wat haar negende op die wêreldranglys bevind. Saam met Van Vuuren is Rosemarie Thiel wat die nuwe jaar 161ste begin, maar ook in staat is om opgang te maak.
Surén kan hom vetsmeer vir ‘n lekker stryd teen Samuel Cleary, Suid-Afrika se hoogste gerekende junior ryer (vierde). Die o.18-seunsgroep is boonop een van die klasse met die meeste inskrywings.
Nog gerekende lede van die Suid-Afrikaanse span sluit in Omar Wilson en Johan van Zyl wat teen die gasheerland se Justus Beulker opgeweeg sal word.
• Wedren 1 (07:30) sluit seuns en meisies o.10 en o.12 in, asook meisies o.14, grootmeesters mane, grootmeesters vroue en vroue “e-bikes”.
Wedren 2 (08:45) sluit UCI elite- en o.23 vroue en UCI junior vroue in, asook subveteraan- en veteraanvroue.
Wedren 3 (10:15) sluit veteraan- en subveteraan mans, meestersmans en o.16 seuns in.
Wedren 4 (11:30) is die UCI elite en o.23 mans en UCI junior mans.
Medeborge van die byeenkom sluit in Pupkewitz Megatech, Cymot, Hollard, Pupkewitz Motors.