Damian sy land se eerste dubbele Afrika-kampioen

Gevegsport
Die vlieggewig het met die enigste goue medalje sy land se vlag hoog laat wapper.
Tielman Van Lill
Die MMA-vegter Damian Muller het Saterdagaand by die Afrika-kampioenskap in Windhoek geskiedenis gemaak toe hy in die eindgeveg vir Obakeng Mahura van Suid-Afrika geklop het.
Muller, die verdedigende kampioen van 2023, het Mahura briljant met punte oor drie rondes oorskadu om vir die tweede keer agtereenvolgens as die senior Afrika-vlieggewigtitelhouer (gewigsperk 57.1 kilogram) bekroon te word.
Die Namibiër het sy sterkpunte gebruik om sy teenstander te uitoorlê.
Hy het die eerste ronde met goeie skoppe na sy teenstander en heelwat houe na die lyf en kop van Mahura ingepalm. Toe Mahura sien dat Muller te rats op sy voete is, het hy Muller aan die einde van die eerste ronde na die krytvloer gedwing. Dit was egter te laat om dié ronde in sy guns te swaai.
In die tweede het hy Muller vroeg op die krytvloer vasgepen en die ronde so in sy guns beklink.
In die derde het Muller geweet hy moet op sy voete bly en Mahura nie die geleentheid gun om hom met jiu-jitsugrepe die oorhand te gee nie.
Muller het Mahura in die derde met etlike voltreffers in die gesig en lyf op ‘n afstand gehou. Mahura het in ‘n stadium van die laaste ronde gelyk of hy nie enduit staande die pyp gaan rook nie.
Die Namibiër het behalwe vir skoppe ook sy teenstander met houe na die kop getref wat Mahura se bene laat jellie word het. ‘n Uitgeslape Mahura het opnuut probeer om Muller se voete onder hom uit te neem, maar Muller het rats sy teenstander se taktiek uitoorlê.

Halfeindronde
Muller het sy semifinaalgeveg teen Mafuana Mbungo van Angola Vrydagaand met punte oorheers.
Ronaldo Feris het sy junior weltergewig-semifinaalgeveg (77.1 kg) teen Roberto Mbeeh van Kameroen met punte verloor.
Quinnservando Malander moes in sy semifinaal van die senior weltergewigklas teen Tulunda Daniel van Angola met punte die knie buig. Verwagtinge van die Namibiër was hoog ná sy uitklopsege in die vorige geveg.

Kontinentale medaljes
In die junior en senior kampioenskap was Angola weer boaan die medaljetabel met 'n allemintige elf goue medaljes, gevolg deur Suid-Afrika wat sewe goue medaljes huis toe geneem het.
Die Demokratiese Republiek die Kongo het derde met twee goue medaljes geëindig, terwyl Namibië, Zambië en Zimbabwe met een goue medalje elk spog. Kameroen en Egipte het ook silwer- en bronsmedaljes verwerf.
[email protected]