Dash-koors loop hoog in hoofstad

Fietsry
Die 20ste Desert Dash sal vandeesweek soos in die verlede weer bergfietsryers se uithouvermoë tot die uiterste beproef.
Tielman Van Lill
Die groot dag vir die 2024 Nedbank Desert Dash-bergfietsmarathon breek eerskomende Vrydag aan wanneer 22 vrouesoloryers en 148 manssoloryers van Australië, Botswana, Brasilië, Brittanje, Duitsland, Frankryk, Namibië, Portugal, Suid-Afrika en Swede eerste vir die 401 kilometer wegspring.
Drikus “Die Masjien” Coetzee (Munga-wenner), Pierre Lambert en Dusty Day (Suid-Afrika) wat verlede week The Munga-ultrabergfietsmarathon oor 1 132 kilometer in Suid-Afrika suksesvol voltooi het, is deel van die solo-aanslag wat 14:30 in die pad val.
Die manswenner van 2023, Konny Looser wat al verskeie kere die Dash gewen het, sal saam met Martin Freyer, Danzel de Koe en Ananias Shikongo by die Grove-inkoopsentrum by die wegspring staan.

Die laaste tien jaar
Solo-mans
Voor Looser op die Dash-toneel verskyn het, was Nichol Jordaan van Suid-Afrika in 2014 die wenner in 15 uur 46 minute 55 sekondes.
Looser het sedert 2015 die Dash ses keer agtereenvolgens gewen alvorens Tristan de Lange in 2021 Looser met ’n sekonde na die eindstreep in 14:55:30 geklop het, terwyl Looser tweede met 14:55:31 geëindig het.
In 2022 was Looser weer tweede (15:38:53) toe Drikus die Dash vir die eerste keer in 15:17:08 ingepalm het. Verlede jaar was Looser se sewende sege met 14:52:16 op die stophorlosie.

Wenners se tye en afstand die afgelope tien jaar
Solo-mans
2014 Jordaan (369 km, 15:46:55); Looser 2015 (369 km, 15:03:20), 2016 (369 km, 14:37:45), 2017 (369 km, 13:55:29), 2018 (369 km, 14:22:51), 2019 (373 km, 14:42:02) en 2020 (373 km, 14:45:21). 2021 Tristan (393 km, 14:55:30). 2022 Drikus (393 km, 15:17:05). 2023 Looser (397 km, 14:52:16).

Solo-vroue
Rebecca Robisch van Duitsland het die solo-afdeling drie keer agtereenvolgens opgeraap gevolg deur Irene Steyn met twee agtereenvolgende seges in 2020 en 2021.
2014 Lulu Ceronio van Suid-Afrika (369 km, 20:08:52). 2015 René Schoeman SA (369 km, 19:11:49). Rebecca Robisch van Duitsland 2016 (369 km, 17:48:10), 2017 (369 km, 16:09:14) en 2018 (369 km, 17:17:07). 2019 Vera Adrian (373 km, 17:10:50). Irene Steyn 2020 (373 km, 17:52:35) en 2021 (393 km, 19:25:43). 2022 Yolande de Villiers van SA (393 km, 17:50:10). 2023 Belinda van Rhyn (397 km, 18:47:40).
Vera neem nie vanjaar aan die solo-afdeling deel nie, maar ry wel in ’n tweeryerspan saam met Daniel Abraham van Nederland.
Anri Greeff, Nicola Fester, Irene (Steyn) en Belinda (Van Rhyn) is reg vir die tog oor die Khomas Hocland deur die Namib na die Platz Am Meer-sentrum in Swakopmund waar die eindstreep binne 24 uur oorgesteek moet word.
[email protected]