Davisbeker-span op drumpel van geskiedenis

Tennis
Die Namibiërs word sterk aangevuur deur die pynlike herinneringe van hul naelskraapse teleurstellings in onlangse jare. Hul doelwit lyk nou binne hul bereik.
Andrew Poolman
Die bewonderenswaardige, vegtende vertonings van Namibië se nasionale manstennisspan by die Davisbeker Afrika Groep III-toernooi in Abuja, Nigerië het hulle teen gister as die enigste onoorwonne aanspraakmaker van die ses spanne geplaas.
Met twee kragmetings oor (vandag teen Zimbabwe en môre Ivoorkus), is Namibië se spankaptein, Gerrie Dippenaar, hoogs tevrede met hul opgang.
Die topdrie van hierdie week se ses Afrika-spanne sal tot Groep II bevorder word. In Namibië se geskiedenis het hy net een keer tevore (2018) Groep III gewen, maar is toe nie bevorder nie.
“Ek is baie trots op die ouens. Jy sal nie glo hoe hoog die humiditeit hier in Nigerië is nie. Die etes is nie waaraan ons gewoond is nie, maar die ouens is gemotiveerd om bevordering tot Davisbeker Groep II te verwerf.
“Stel jou voor wat dit vir Namibiese tennis sou beteken om Davisbeker-wedstryde in Windhoek teen Europese nasies aan te bied. Dis die droom wat ons najaag,” vertel Dippenaar.
Die Namibiërs word sterk aangevuur deur die pynlike herinneringe van hul naelskraapse teleurstellings in onlangse jare.
“Twee jaar gelede het ons in die derde stel se valbyl verloor. Laas jaar moes die spanne ook onderskei word en ons het uitgeval met net een stel minder gewen.”

Slim spankeuse
Dippenaar se skuif vroeër vanjaar om op die knoppie te druk van die 33-jarige uitgetrede veteraan Jean Erasmus, wat deesdae in Chicago woon, het reeds vrugte afgewerp.
“Ek het Jean ondanks sy uitgetrede status laat kom en vir hom gesê ons het hom nodig, want jy het reserwekrag agter jou toptwee nodig en my seun Steyn (Dippenaar) is vanjaar uit met ‘n besering.
“Jean (vorige Davisbeker-jare 2008 tot 2019) het in die dubbelspel soos 'n professionele speler gelyk.
“Dit gaan goed met Connor ook. Ons moes hom Woensdag 'n ruskans gee vir die dubbelspel nadat hy tydens sy enkelspelwedstryd krampe ervaar het, met 'n paar baie taai stryde wat nog hierdie week voorlê.

Klop Benin 3-0 (gister)
Enkelspel 1: Codie van Schalkwyk klop Alexis Klegou, wat uittree nadat die Namibiër die klipharde eerste stel met 7-6(6) beklink.
“Dit was ‘n massiewe gestoei. Codie het verskeie breekpunte gehad wat nie in sy guns geëindig het nie, maar ons het positief gebly en toe hy die eerste stel beklink, het sy opponent genoeg gehad,” vertel Dippenaar.
Enkelspel 2: Connor van Schalkwyk klop Sylvestre Monnou met 6-2, 6-3. Die Namibiër het sewe kishoue teen nul geslaan en 28 van sy 48 eerste afslane was in die kol. Klegou het geknak met sewe doubbelfoute teen een.
Dubbelspel: Erasmus en Codie ruk reg en klop die Benin-paar met 2-6, 6-4, 6-1 (een uur 33 minute).

Klop Nigerië 3-0 (Woensdag)
Enkelspel 1: Codie van Schalkwyk klop Wilson Igbinovia (Nigerië) 6-1, 6-1.
Enkelspel 2: Die 19-jarige Connor van Schalkwyk het die eerste stel teen Christopher Bulus (Nigerië) met 3-6 verloor en hard geveg om te oorleef totdat hy die tweede stel met 7-6(5) gewen het.
Hy het hierna die derde stel met 6-1 oorheers. Connor verbeter sy reeds indrukwekkende Davisbeker-enkelspelrekord tot 11 oorwinnings en een nederlaag.
Dubbelspel: Jean Erasmus (33) en Codie van Schalkwyk (22) het gekombineer om Daniel Adeleye en Michael Emmanuel met 7-6(4), 6-3 te klop.
Dippenaar sê: “Die ou teen wie Connor vandag gespeel het, is 'n ernstige speler wat (Dinsdag) Zimbabwe se Benjamin Locke (wêreldnommer 307ste) geklop het. Connor het die eerste stel verloor, en die tweede stel was op 6-6 gelykop, terwyl hy in die valbylpot met 2-5 agter geraak het.
“Ek het net vir hom gesê jou reaksie in sulke situasies is wat mense soos Novak Djokovic voor die res sy kompetisie plaas. Connor het toe vyf punte opeenvolgend gewen om die derde stel af te dwing. Absolute vyfster-vertoning vandag.”
• Die Namibiërs het Ghana Maandag op dag een met 2-1 ondergekry.