Die Kaap wink en Gallina is hier vir aksie

Moto-cross
Môre se MX-byeenkoms by die Gallina-motocross-park is een wat nie gemis kan word nie.
Tielman Van Lill
Die sesde rondte van die nasionale motocross-kampioenskap môre by Gallina noord van die hoofstad, beloof om opnuut ‘n opwindende en adrenalien-aangevuurde byeenkoms te wees.
Ná die sesde rondte sal net drie kampioenskapskompetisies oorbly en topjaers van regoor die land veg verbete vir die beskikbare punte vir die Namibiese titel aan die einde van die jaar.
Elke resies van die dag tel en en die mededinging tussen die ryers sal môre met aksie kookpunt in die hoë-oktaangevulde dag bereik.
Daar is iets vir almal om te geniet, of jy nou 'n motocross-entoesias is, of net op soek is na 'n opwindende dag uit die huis uit. Daar kan aan heerlike kos van ‘n verskeidenheid stalletjies gesmul word, terwyl Die Oog iets koud vir toeskouers van alle ouderdomme bied.
Die King of the Dirt is die laaste resies van die dag waar die ysterperdbrigade van verskeie klasse hul staal vertoon. Om te sê dié wedren is vuurwarm, is ‘n onderbeklemtoning. Jaers in die ope-klas, veterane, klubmans, 124 cc-klas en vroue kry in die elite King of the Dirt-wedren die ideale geleentheid om sy of haar vernuf ten toon te stel.
Juan de Vos, Gero Friederich, Tony Viljoen, Heiko Stranghöner, Sigi Pack, Jorg Stranghöner, Olaf Pack, Markus Muller, Rigo Wolf en Gino Meyer is ‘n paar name wat genoem word wat die krane ten volle tydens die King of the Dirt gaan opdraai.
Ryers soos Mark Sternagel oefen hard vir die Sone 7-kampioenskap wat op 24 Augustus in Kaapstad plaasvind en waar die room van Suider-Afrika se topryers gaan saamtrek. Die hoog aangeskrewe byeenkoms is skaars twee weke weg en die Namibiese ryers wat daar gaan deelneem, sal môre elke ons van hul gewig agter hul vernuf ingooi om vir die Kaap voor te berei.
Die hekke open reeds om 06:00 en die eerste renne begin 11:00. Ingang kos slegs N$20 en kleuters gaan verniet in.
[email protected]