Drinkery in Uganda lei tot NRU-ondersoek

Rugby
Otis Daniels
Twee Namibiese rugbyspelers het die land glo in ’n swak lig gestel met wat bestempel word as onaanvaarbare gedrag, gedurende die afgelope Rugby Afrika-bekertoernooi in Uganda se hoofstad Kampala.
Die president van die Namibië Rugby-unie (NRU), Petrie Theron, het by navraag gesê die unie is bewus van die voorval en wag op skriftelike verslae.
“Ons wil ’n behoorlike ondersoek doen en sal die nodige prosesse volg voor ons enige uitlatings maak.”
Luidens ’n betroubare bron is die spelers ná Namibië se nederlaag met 10-32 teen Zimbabwe in die semifinaal toegelaat om as span ’n bier of twee te geniet. Vir sommige spelers het dit egter nie daar gestop nie.
Toe die span die volgende oggend bymekaarkom vir ’n herstelsessie by die swembad van die Speke Resort waar hulle geakkommodeer was, was twee van die spelers wie se name aan die publikasie bekend is, afwesig.
Volgens die bron was dié spelers in daardie stadium steeds in die restaurant besig om biere weg te slaan. Besorgde hotelpersoneel het toe noodgedwonge die afrigter van die span verwittig en hom versoek om die spelers te kom verwyder.
In reaksie hierop het hoofafrigter Allister Coetzee glo die manne ingelig dat hulle nie aan die res van die toer sal deelneem nie en dat hulle op die eerste vlug na Namibië sou terugkeer. ‘n Vroeër vlug was glo nie beskikbaar nie en die betrokke twee het Sondag saam met die res van die toergroep teruggekeer.
‘n Bekende in rugbykringe het die voorval as ‘n oortreding van die spanprotokol bestempel. “Daar is ‘n gedragskode en elke speler moet daaraan voldoen. Ons nasionale afrigter is bekend vir sy streng toepassing van dissipline. Die spesifieke gedrag is ongehoord op enige vlak en indien hulle skuldig bevind word, kan die spelers hulle wedstrydfooie verloor en selfs geskors word. Die NRU is die hoogste gesag en sal moet optree na gelang van die feite.”