Eagles voltooi toer sonder kaptein Erasmus
Krieket
Die veelsydige lopiemasjien en leier het 'n tussenribspier beseer.
Vanweë ’n besering keer Gerhard Erasmus, krieketkaptein en lopiemasjien van Namibië, voortydig huis toe en sal hy geen verdere aandeel in die driehoekige T20-reeks in Kirtipur, Nepal hê nie.In die aanloop tot die ICC T20 Wêreldbeker wat in Junie in die VSA en Wes-Indië voorlê, sal Erasmus se vordering met arendsoë dopgehou word.
Die kaptein van die Richelieu Eagles het as draaibouler twaalf paaltjies in die afgelope eendagreeks se vier wedstryde teen Nepal en Nederland geneem.
’n Tussenribspier het egter sedert die eendag-oorwinning teen Nederland begin pla en Erasmus het dus die leierskap aan JJ Smit, die amptelike onderkaptein, oorgedra toe die T20-reeks vandeesweek begin het.
Die koerant verneem dat Erasmus in Windhoek ’n mediese spesialis sal raadpleeg wat die herstelpad vorentoe sal uitlê en koördineer. Nadat Erasmus meer as duisend lopies in internasionale eendagwedstryde in die laaste kalenderjaar aangeteken het, kan sy waarde vir Namibië nooit oorskat word nie. ’n Druk program lê ook in die ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks voor, wat deel van die kwalifisering vir die 2027 Wêreldbeker vorm.
TAAI NEPAL NET-NET GEKLOP
Gister het Nederland (184 vir 4 in 20 boulbeurte) se sege met twee lopies teen Nepal (182/8 in 20) ’n spannende T20-naelbytdrama tot die laaste aflewering gelewer.
Namibië se afrigter Pierre de Bruyn en sy Eagles sou sekerlik dié wedstryd noukeurig gevolg het om te sien hoe twee opponente sake benader.
Die Namibiërs stap vanoggend 07:45 vir hul eerste van twee T20i’s teen Nederland op die veld en dan volg Nepal Vrydagoggend. Hul laaste kragmeting is Sondag teen Nederland.
’n Sege teen Nederland sal heelwat selfvertroue verskaf vir die Eagles se voorbereiding op die T20-Wêreldbeker.
Gister het Nepal die loot gewen en nie dieselfde taktiek as JJ Smit Dinsdag teen hulle gevolg deur eerste te gaan kolf nie. Met vertroue in ’n sterk boulaanval was Die Oranje se plan straks om so min as paaltjies te verloor en ’n verdedigbare totaal op die telbord te plaas.
Die Vlieënde Hollanders het ’n bra rustige benadering in hul kolfbeurt gehandhaaf. Daar was oënskynlik min haas van die kolwers. Met sewe paaltjies in die spens het hulle selfs in die laaste vyf boulbeurte net 41 lopies behaal, waarin net vier grenshoue geslaan is.
Hoewel die aanvangspaar Max O’Dowd (4 van 6 balle) in 2.1 en Michael Levitt (54, 36 b, 5x4, 3x6) in 8.6 vir 77/2 laat stap was, was Scott Edwards se span geensins in die knyp nie.
Nederland se kolwers was bereid om hard vir hul enkellopies te werk en enige swak aflewerings vir grenshoue te bêre. Hul 21 grenshoue (17x4, 4x6) vir 92 lopies is ’n getuigskrif van hul bestendige benadering, maar dit het vir hulle gewerk.
Hierteenoor het Nepal 25 grenshoue (17x4, 8x6, totaal 116) geslaan.
Sybrand Engelbrecht op drie (speler van die wedstryd) met 49 nie uit nie (38 b, 4x4, 1x6), Scott Edwards op vier (33 van 16 b, 5x4) en Teja Nidamanuru op vyf (31 van 24 b, 3x4) het sonder drama die telbord aan die rol gehou.
KC Karan (1 paaltjie vir 29 in 3) en Kushal Malla (1/37 in 4) het onderskeidelik van O’Dowd en Levitt ontslae geraak, terwyl beide Edwards en Nidamanuru uitgehardloop is.
Die draaibalboulers Roelof van der Merwe (2/24 in 4) en Engelbrecht (2/13 in 2) het nie die lewe vir die Nepal-boulers maklik gemaak nie.
Van der Merwe het met sy vernuf in die laaste boulbeurt Nepal se hoop op ’n sege met die paaltjies van nommer agt KC Karan (11 van 7 b, 1x6) en vyf Dipendra Singh Airee (63 van 34 b, 6x4, 3x6) binne twee aflewerings nek omgedraai.
Met Airee daar sou Nepal nog die wa deur die drif kon trek – net soos hy die vorige dag teen Namibië gedreig het totdat Ruben Trumpelmann hom uitgehaal het.
Van der Merwe het ook die aanvangskolwer Aasif Sheikh (34 van 23 b, 4x4, 1x6) in die negende boulbeurt uitoorlê.
Engelbrecht het op sy beurt in die 12de vir Malla (11 van 7 b, 1x6) en Rohit Paudel (50 van 36 b, 6x4, 2x6) binne vyf aflewerings laat stap wat Nepal se lopietempo ’n ernstige knou toegedien het.
Die naatbouler Vivian Kingma (1/30 in 4) het met die vierde bal van die T20i van die gevaarlike Kushal Bhurtel vir nul ontslae geraak wat reeds die skaal in Nederland se guns geswaai het. Timm van der Gugten (1/40 in 4) en Aryan Dutt (1/45 in 4) was wel duur, maar hul deurbrake het op kritieke oomblike in 15de en 16de plaasgevind.
– [email protected]