Een gewen, een verloor vir Eagles

Krieket
Die gasheerspan Skotland het gister sy stempel afgedruk deur die Namibiese Richelieu Eagles te verslaan in hul driehoekige eendagkrieketreeks in Dundee., as deel van die 2024-2027 ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks. Skotland se kaptein Richie Berrington (foto) het met 79 lopies van 81 balle (4x4 4x6) saam met die aanvangskolwer George Munsey (91 van 62 balle, 13 viere, drie sesse) die pas aangegee in hul wentotaal van 290/9 in 50 boulbeurte. Weens reën is die Namibiese teiken tot 283 lopies in 44 bb aangepas, maar die Eagles het hul kolfbeurt op 235/9 afgesluit en het dus met 47 lopies verloor (DLS-metode). Die voorste Eagles-kolwers was Michael van Lingen (60 van 85 balle, 9x4), Gerhard Erasmus (63 van 51 balle, 8x4 2x6) en Jan Frylinck (34 van 39 balle). Afgesien van Bernard Scholtz (3/23 in 10 bb) het Tangeni Lungameni, Ben Shikongo en Erasmus ook elk twee paaltjies laat kantel. In Vrydag se openingswedstryd is Frylinck as speler van die wedstryd aangewys vir sy 73 van 81 balle, wat Namibië (234/4) gehelp het om met ses paaltjies teen Oman (233/8) te wen. Die Eagles se volgende wedstryd is Woensdag teen Oman. Foto Getty Images