Eindstryde tussen voorste hokkieskole bepaal

Skolehokkie
Beide die seuns- en meisieskampioene van 2023 is onttroon.
Andrew Poolman
Die room van Namibiese hoërskolehokkie is vandeesweek op vertoon, met die afhandeling van die ligas se semifinale die afgelope naweek en die bepaling van die finaliste.
Twee “nuwe” kampioenskole in die onder 19 Superliga vir beide seuns en meisies sal beslis komende Vrydagaand by WHS se baan bekroon word, met die uitskakeling van die titelhouers van 2023. Verlede jaar het Windhoek Affies se seuns en St. Paul’s se meisiespan hul finale (beide teen Windhoek Gimnasium) gewen..
In ‘n taai halfeindstryd laas Vrydagaand wat volgens gesiene waarnemers ‘n ewe waardige eindstryd vir die huidige seisoen sou kon wees, het Windhoek Hoërskool se seunspan, geborg deur Standard Bank, ‘n spannende oorwinning met 1-0 teen Windhoek Afrikaanse Privaatskool behaal.
Josh Hatton-Jones se treffer het die verskil gemaak in die WHS-seuns se oorwinning as besoekers by Affiespark se astrobaan. Affies se kanse het ‘n knou gekry met die besering wat hul gedugte doelskieter Ludwig van Rooyen se rol tot die van toeskouer beperk het, terwyl WHS ook sonder die dienste van Stefan la Grange (uit vir die jaar met kniebesering) en Alex du Plessis (uitstedig; dalk in oorweging vir die finaal) klaargekom het.
Saterdag het St. Paul’s se eerste seunspan ook sy stem dik gemaak met ‘n oorwinning van 7-3 teen die hoog gerekende Privaatskool Swakopmund. Die kusspan se James de Jager het twee doele aangeteken (een vanaf ‘n strafhoek), met sy spanmaat Daniel de Wet wat ook ‘n doel bygedra het.
Abraham Graham (3), Arnaud Marais (2), Mytthys Nel en Ethan Brinkmann (1) het die doele ingeryg vir St. Paul’s se oortuigende oorwinning.

Meisies o.19 Superliga
Windhoek Affies het by die WHS-baan St. Paul’s se titelverdediging met 1-0 beëindig, te danke aan die wendoel wat deur Marlene Coetzee afgerond is.
By Windhoek Gimnasium se baan het die gasheerskool se meisies die deurbraak na die eindstryd gemaak deur met 3-1 verby WHS te vorder, met Milah Malan se doel tevergeefs om WHS se uitskakeling te verhinder. Gimmies se doelskieters was Mienke Collard, Amy Garrels en Jessica Gresse.

Komende Vrydag se skedule van eindstryde (alles by WHS-baan):
Meisies ontwikkelingsliga: Keetmanshoop Privaatskool tn Whk Gim o.14 (14:30).
Meisies premierliga: St. Paul’s tn Whk Gimnasium (15:30).
Seuns premierliga: WHS tn Whk Affies (16:45).
Meisies superliga: Whk Affies tn Whk Gimnasium (18:00).
Seuns superliga: WHS tn St. Paul’s (19:30).