Erasmus, Fouché, Kotzé en Visagie versterk Old Boys

Krieket
Tielman Van Lill
APS Samsung Wanderers 1 teen CCD Tigers 1, asook die verdedigende titelhouer Afri-Track Group WHS Old Boys 1 teen Trustco United 1 sal môre by Wanderers in Pionierspark sake in die tweede ronde van Krieket Namibië se T20-premierliga uitspook.
Laas Saterdag in die openingsrondte het Wanderers 1 en Tigers 1 by dieselfde venue elk vier ligapunte behaal toe hulle onderskeidelik vir Old Boys en United geklop het.
Old Boys moes sonder die dienste van ervare figure soos JP Kotzé, Gerhard Erasmus, Shaun Fouché en JW Visagie die spit teen Wanderers 1 afbyt. Die viertal kan egter môre ‘n aansienlike verskil in hul aanslag teen United maak.
Wanderers teen Tigers se ontmoeting vind die oggend plaas, terwyl Old Boys en United die namiddag sal koppe stamp.

Topvyf lopiemakers sover
Die vyf kolwers het gesamentlik 264 lopies geslaan en 39 aflewerings na die grenstou gejaag (33x4 en 6x6 vir 168 lopies).
Vier vyftigtalle is verlede naweek aangeteken, naamlik deur Ryan Moffett van CCD Tigers (70 lopies van 38 balle, 9x4, 2x6), Niko Davin van Wanderers (57 van 34 b, 9x4, 1x6), Joshuan Julius van Tigers 1 (53 nie uit nie van 52 b, 5x4, 1x6) en Erik Lintvelt van United (52 van 45 b, 6x4, 1x6). Handré Klazinga van United 1 is in die vyfde posisie met 32 nie uit nie van 15 b, 4x4, 1x6).

Topvyf boulers sover
Altesaam twaalf paaltjies het tussen die topvyf vir 111 lopies geval.
Die toonaangewende boulers is Bernard Scholtz van Wanderers (4 paaltjies vir 8 lopies in 4 boulbeurte, ekonomie 2), Simon Shikongo van CCD Tigers (2/25 in 4, ekon. 6.25), Mauritius Ngupita van Tigers (2/25 in 4, 6.25), PD Blignaut van Wanderers (2/24 in 3.3, ekonomie 6.86) en Handré Klazinga van United (2/29 in 4, ekon. 7.25).

Mees waardevolle bydraes
Op die gekombineerde punteleer vir spelers se algehele vertoning beklee Moffet tans die voorste posisie met 333 punte, gevolg deur Davin (272), Lintvelt (204) en Julius (186).
Scholtz is die enigste bouler (180) wat hom onder die topvyf bevind.

Laer ligas
Ander T20-wedstryde wat vir môre geskeduleer is:
Premier Twee-liga (by United-veld): oggend Wanderers II tn Pro-Ed Old Boys / namiddag WHS Old Boys II tn CCD Tigers II.
Eersteliga Sentraal: oggend Gobabis v Unam Zebras op Gobabis / namiddag CCD III tn Gobabis op Gobabis / oggend WHS Old Boys III tn United III by WHS Vegkopstadion.
[email protected]