Fokus op o.19-skoleliga in geselsprogram

Skolerugby
Die voorsitter en ondervoorsitter van die Namibiese Sekondêre Skolerugby (NSSR)-komitee, mnre. Ainsley Daniels (WHS) en Abrie Myburgh (Windhoek Gimnasium), was Vrydag ons ateljeegaste vir die nuutste uitsending van ons Afrikaanse braai- en sportgeselsprogram Gooi Kole.
Voor die openingsnaweek van die NSSR se nasionale hoërskolerugbyligas, het Magreth Mengo namens die hoofborg Standard Bank ook haar opgewondenheid gedeel oor die 2024-reeks wat opnuut propvol belofte wink.
In die o.19 premierliga was al agt spanne laas naweek in aksie, met wedstryde by Windhoek Affiespark, by Elnatan op Stampriet, by Windhoek Gimnasium en by Pro-Ed Akademie op Swakopmund.
Die wedersydse vriendskap en respek tussen die mededingende skole blyk duidelik uit die gesprekke.
As mede-afrigter van Windhoek Gimnasium se eerste span het Myburgh ons onder meer vertel oor die wedervaringe op hul onlangse deelname aan die Sanix-wêreldtoernooi in Japan waarin genooide toprugbyskole van onder meer Nieu-Seeland, Australië, Engeland, Fidji en die VSA ook deelgeneem het.
Vanaf ons kuskantoor is ‘n videobydrae ook uitgesaai waarin die voorsitter van Swakopmund se Oceans-rugbyklub, Absalom Fillipus, van sy gedagtes deel. Ietwat uniek van Oceans is dat dit eerste met ‘n vrouespan in die NRU-liga ingeskryf het, voordat die manspan op die been gebring is wat tans in sy debuutseisoen in die NRU eersteliga meeding.
Die Oceans-manspan het reeds verras deur ‘n oorwinning met 18-5 teen Walvisbaai se Sparta (‘n betreklik onlangse kampioenspan van die NRU eersteliga) te behaal.
• Laas Vrydag se episode: https://q.my.na/YEQI