Franse klubs verkry Namibiese talent

Rugby
Andrew Poolman
Losskakel André van der Berg en vleuel Gerswin Mouton, albei op pad om as nuwe aankope by Franse klubs aan te sluit, was onder die lang lys onbeskikbare spelers vir die verkleinde nasionale groep wat vandeesweek deur die Namibiese hoofafrigter, Allister Coetzee, aangekondig is.
Die 26-jarige Van der Berg, met sewe toetse vir Namibië, sou na verwagting 'n sleutelfiguur wees in die komende opwarm-tuiswedstryd teen die Blou Bulle op 29 Junie, asook die toets teen Portugal twee weke later.
Die Franse klub USA Limoges het egter aangekondig dat onderhandelinge afgehandel is vir Van der Berg om by hulle aan te sluit wanneer hul nuwe seisoen begin.
Van der Berg was in die laaste weke 'n sterk invloed vir sy klub FNB Wanderers in die Namibië Rugbyunie premierliga.
“Ek het lank gewag vir 'n geleentheid om professioneel te speel. ’n Mens se rugbyloopbaan hou nie vir ewig nie en ek is gemotiveerd om myself in so ’n liga te toets, om my spel te verbeter en moontlik op te werk na groter klubs en hoër mededingende ligas,” het Van der Berg aan Sport Wrap gesê.
In die Franse seisoen wat pas verby is, is USA Limoges gerelegeer en sal die komende seisoen in Federale 1 begin.
USA Limoges se Namibiese slot Adriaan Ludick sê: “Dis ’n goeie klub, maar ‘n klomp spelers was afwesig tydens die internasionale seisoen en tydens die Wêreldbeker. Ons het ’n goeie aantal wedstryde in die tweede helfte van die seisoen gewen, maar dit was toe te laat.”
Ludick, wat tans in Namibië is, maar onbeskikbaar is vir die nasionale span se wedstryde in afwagting op bevestiging van 'n skuif na 'n nuwe klub in Roemenië, het hoë verwagtinge dat Van der Berg by Limoges sal uitblink.
“Ek is bitter bly om te sien André kry uiteindelik hierdie geleentheid waaroor ons al omtrent twee jaar lank praat. Hy is 'n baie goeie nommer 10 wat net 'n kans soos hierdie nodig gehad het. Ek reken hy sal 'n groot sukses maak en dat vele klubs sal belang stel sodra hulle die tipe speler sien wat hy is. Hy het ’n groot toekoms voor hom.”
Intussen sal Gerswin Mouton, wat verlede jaar drieë teen Italië en Uruguay by die Wêreldbeker-toernooi gedruk het, binnekort 'n skuif na die Franse klub Grenoble afhandel, wat vierde uit 16 spanne in Pro D2 geëindig het.
Mouton (24, agt toetse) het by Windhoek Affies, Namibië o.18 Cravenweek, Namibië o.20, Blou Bulle o.20, Wits in die Varsitybeker en die Welwitschias in die SuperSport-uitdaagreeks die trappe boontoe geklim. Die eerste van sy drie toetsdrieë is teen Zimbabwe in die Wêreldbeker-kwalifisering in 2022 gedruk.