Gauteng-speler wen Windhoek Ope
Gholf
Namibië se topspeler Likius Nande is met een hou deur ‘n Suid-Afrikaanse besoeker geklop in laas naweek se gesogte Windhoek Ope by die Windhoek-gholfklub, wat vir die derde jaar deur Ongos Valley geborg is. Met die vroue ingesluit het 103 spelers deelgeneem. Die A- en B-afdelings het 54 putjies oor twee dae gespeel (36 en 18), terwyl die C-afdeling net 36 putjies oor twee dae gespeel het. Spelers in die A-, B- en C-afdeling wat nie die medalje-formaat wou aanpak nie, is die kans gebied om ‘n afsonderlike stableford te speel. Die vroue-afdeling het ook die stableford-formaat aangedurf.
Die manswenner Filip Sakota, van Royal Johannesburg-gholfklub, was een van drie Suid-Afrikaners in die kompetisie, terwyl een inskrywing uit die VSA ook deelgeneem het. Spelers van Walvisbaai, Swakopmund, Tsumeb, Grootfontein, Oshakati, Mariental, Omeya en Windhoek het meegeding.
Toady Gurirab, die onlangs verkose president van die Namibiese Amateurgholfunie (Nagu), het die WGC-bestuur en gholfkomitees gelukgewens met die reëlings van 'n suksesvolle geleentheid. Die Windhoek Ope is 'n Nagu-toernooi waarin spelers vir punte op die nasionale merietelys meeding.
Inocencio Verde, wat die borg Ongos Valley verteenwoordig, het al die deelnemers verwelkom en die spelers geprys wat van ver af kom meeding het. Hy het bevestig dat Ongos Valley in 2025 opnuut die Ope sal borg. Dan Zwiebel van DZ Golf is deur Ongos betrek om die toernooi te help organiseer en hy was ook die toernooi-skeidsregter.
Windhoek-gholfklub het Ongos Valley vir sy ruim borgskap bedank, wat vir etes en verversings op en van die baan af gesorg het.
Die Windhoek Ope se uitslae:
Mans algeheel, beste bruto: 1 Filip Sakota (220 houe), 2 Likius Nande (221).
Mans algeheel, beste netto: 1 Alfie Ndyenge (218), 2 Mervin Nangolo (220).
A-afdeling, beste bruto: 1 Henry Mudge IV (226), 2 Matthew Mortimer (227).
A-afdeling, beste netto: 1 Paulus Shifonono (224), 2 Elias Mulombwelwa (225).
B-afdeling, beste bruto: 1 Meriki Shoozi (250), 2 Jonas Katti (255).
B-afdeling, beste netto: 1 Milton Eiseb (223), 2 Joseph Martin (224).
C-afdeling, beste bruto: Dewald Coetzee (173), 2 Vincent Dreyer (176).
C-afdeling, beste netto: 1 Wilfried Emvula (144), 2 Mike Beavis (145).
Vroue algeheel beste bruto: 1 Wilmari Woest (165), 2 Anecia le Grange (170).
Vroue beste netto: 1 Sesilia Nkoshi (150), 2 Anja Wessels (152).
Stableford mans: 1 Sponks Mohale (80 punte), 2 Armand de Klerk (73), 3 Bonifatius Paulino (66).
Stableford vroue: 1 Celonika Robinson (78), 2 Jolene van Schoor (71), 3 Alvine Samuel (66).
• Komende Saterdag en Sondag bied Windhoek-gholfklub sy jaarlikse Toernooie van Kampioene-spankompetisie aan.