Geloof vuur Du Toit se sukses aan
Kragoptel
Kragoptellers van verskeie lande behaal sukses danksy insette deur Robin du Toit as afrigter.
Die Namibiese kragafrigter en sportwetenskaplike Robin du Toit het onlangs opnuut van sy atlete na reusesukses by 'n wêreldkampioenskap gelei.In September 2024 het drie atlete van ArtisticFit in Dubai vir die Sterkvrou-wêreldkampioenskap in Duitsland gekwalifiseer.
Du Toit het vroeër vanjaar die eerste Namibiese afrigter geword om ‘n wêreldtitel in kragsport te beklink. Met die mees onlangse kompetisie het Du Toit opnuut ‘n mylpaal behaal toe hy en sy atlete hul 2024-kalender onoorwonne met drie wêreldtitels afgesluit het.
‘n Uitstaande atleet, Brendali Theron van Suid-Afrika, het in 2024 vir drie wêreldkampioenskappe van drie verskillende beheerliggame gekwalifiseer.
Hoewel komplikasie met haar visum Theron verhoed het om in Duitsland by die kampioenskap in te weeg, het sy dit wel virtueel aanlyn onder toesig van organiseerders in Dubai gedoen.
‘n Dag voor die kampioenskap was Theron steeds besig in Dubai om gewig deur ‘n uitmergelende proses te verloor. Om 23:30 die aand het sy inderhaas ‘n vlug na Frankfurt gehaal waar sy in die vroeë oggendure aangekom het. Sy het direk van die lughawe aan die kompetisie gaan deelneem.
Du Toit sê hy het in sy 23 jaar as afrigter nog nie dié tipe toewyding van ‘n atleet gesien nie.
Behalwe Theron het Nadine Cramwinckel (Nederland) en Zaynab Aboudan (VSA) ook met Du Toit se insette sukses behaal.
Cramwinckel het in die 63 kilogram-afdeling haar sege behaal en die Zercher Lift-wêreldrekord verpletter. Du Toit sê Cramwinckel se tegniek en robuuste krag was onmiskenbaar haar sleutel tot sukses.
Aboudan het in die 54 kg-afdeling meegeding en het uitdagers met haar vertoning verstom. Sy het nie net haar afdeling gewen nie, maar met die gesamentlike gewig van die drie dissiplines ‘n nuwe wêreldrekord opgestel.
Du Toit sê haar krag en konsekwentheid tydens die onderskeie dissiplines het haar ongeëwenaarde vermoë gewys om op die hoogste vlak te oorheers.
Du Toit sê sy sukses is nie syne nie.
"Ek gee al die eer vir elke sukses en elke oorwinning aan my Here en Verlosser Jesus Christus. Dit is deur Sy krag dat ek in staat is om hierdie ongelooflike atlete af te rig en te lei. Ek is net 'n vaartuig vir Sy werk en ek bly dankbaar vir Sy seëninge elke tree van die pad,” het hy verduidelik.
– [email protected]