Glasgow 2026 begin reeds sy vlag wapper

Statebondspele
Tielman Van Lill
Die 2026 Statebondspele vind eers oor 540 dae in Glasgow, Skotland, plaas, maar atlete van 74 lande asook die organiseerders se voorbereiding kook reeds in die opbou na ‘n besonderse skouspel.
George Black, voorsitter van die 23ste Statebondspele, is ‘n gesoute strateeg en sal sy raad van uitvoerende direkteure met onderskeiding lei.
Die raad sal toesig hou oor die strategiese beplanning en uitvoering van die Spele. Die fokus is op die aanbieding van 'n multi-sportbyeenkoms wat die waardes van die Statebond sal uitstal.
Black, wat die voormalige uitvoerende hoof van die Glasgow-stadsraad was, het ná sy aanstelling as voorsitter ‘n ervare span saamgestel. Lede met 'n uiteenlopende reeks agtergronde, senior ondervinding in sport, besigheid en staatsdiens is saamgesnoer.
Ian Reid is as visevoorsitter aangestel. Reid bring 'n magdom kennis en ervaring na die tafel – onder meer die aanbieding van twee suksesvolle Statebondspeles (Glasgow 2014 asook Birmingham 2022).
Die ander raadslede is Katie Sadleir, uitvoerende hoof van die Statebondspelefederasie (CGF); Mary Hardy, oudit- en risikokomiteevoorsitter en raadswaarnemer van die CGF; asook Jon Doig, uitvoerende hoof van die Skotse Statebondspelevereniging.
Die nuwe raad beskik ook oor 'n indrukwekkende lys van nie-uitvoerende direkteure wat elkeen oor ‘n unieke insig en ervaring beskik.
Hulle is Kieron Achara, voormalige professionele basketbalspeler; Manish Joshi, nie-uitvoerende direkteur in die Skotse regering; dr. Julie McElroy, tegnologie-kenner; Theresa Shearer, uitvoerende hoof van die Enable maatskappy; David Grady, voormalige finansiële hoof by die 2022 Statebondspele; Jamie Grant, besturende direkteur van korporatiewe bankwese by Barclays, asook Fiona Taylor, voormalige adjunkhoofkonstabel in die Skotse polisie.

Met passie en dryfkrag
Black sê: “Glasgow 2026 sal 'n Spele wees soos geen ander nie. Om 'n wêreldklas multi-sport Spele in 'n relatief kort tydperk te lewer wat geheel en al gebaseer is op private finansiering, is 'n unieke uitdaging. Maar dis 'n uitdaging waarvoor ons as 'n raad en organiseerders gereed is.
“Glasgow het die ervaring, die fasiliteite en die kundigheid om 'n briljante Spele te lewer. Ek het alle vertroue dat ons, saam met ons fantastiese uitvoerende span die Spele gesamentlik met passie en dryfkrag sal laat herleef.
“Ons besluitneming word ter harte geneem met die atlete, ondersteuners en die mense van Glasgow en Skotland in gedagte as die belangrikste komponent van die 2026 Spele.”

Sportkodes in of uit
In die verkorte 2026 Spele is dertien vorige sportkodes weggelaat. Die drastiese stap was nodig om te verseker dat die Statebondspele voortleef.
Die tien uitgesoekte sportkodes wal wel die regmerkie gekry het, is atletiek, baanfietsry, boks, 3x3-basketbal, gewigoptel, gimnastiek, judo, netbal, rolbal en swem.
Para-sport word weer ten volle geïntegreer as 'n sleutelprioriteit met ses para-sportsoorte op die program. Die kodes is para-atletiek (baan en velditems), para-baanfietsry, 3x3-rolstoelbasketbal, para-gewigoptel, para-rolbal en para-swem.
Weens astronomiese uitgawes is besluit om duik, hokkie, fietsry (pad en bergfiets), krieket, muurbal, pluimbal, sewesrugby, skiet, stoei, strandvlugbal, tafeltennis en triathlon af te skaf.
Vier venues is binne 'n radius van ses kilometer geïdentifiseer waar die volle tien sportkodes in geheel sal plaasvind. Die idee is om ‘n feestelike gevoel te skep en dit vir toeskouers aantreklik te maak om die kompetisies by te woon. Dit sal ook makliker wees om elke sport te beeldsend.
‘n Geskatte 3 000 atlete van 74 Statebondlande sal genoeg aksie verskaf om die meer as 500 000 kaartjies te verkoop.
Die bestemde venues is die Scotstoun-stadion (hoofvenue), die Internasionale Tollcross-swemsentrum en die Emirates Arena – insluitend die Sir Chris Hoy Velodrome en die Scottish Event-kampus (SEC). Atlete en ondersteuningspersoneel sal in hotelle gehuisves word.
Die XXIII Spele vind van 23 Julie tot 2 Augustus 2026 plaas en sal ná twaalf jaar terugkeer na Glasgow waar die uiters suksesvolle 2014 Statebondspele gehuisves was.
[email protected]