Hewige gewoeker vir vier meer plekke by 2027 WB

Rugby
Vier ekstra lande kry geleentheid, maar die uitdunwedstryde sal so kompeterend soos altyd wees.
Tielman Van Lill
Wêreldrugby het vandeesweek sy kwalifiseringsproses vir die 2027 Wêreldbeker in Australië bevestig.
Die 2027 Wêreldbeker is die elfde weergawe en is vir die eerste keer tot 24 nasies, die meeste nóg, uitgebrei.
Die Springbokke, viermalige wêreldkampioene, sal hul titel van 1 Oktober tot 13 November in 2027 verdedig.
Die nege beplande stadions is Stadium Australia (Sydney), Sydney Football Stadium, Newcastle International Sports Centre, Docklands Stadium (Melbourne), Melbourne Rectangular Stadium, Adelaide Oval, Perth Stadium, Lang Park (Brisbane) en North Queensland Stadium (Townsville).
Twaalf spanne het reeds regstreekse kwalifisering vir die 2027 WB verwerf deur in die topdrie van hul groep by die 2023 Wêreldbeker in Frankryk te eindig.
Die beskikbare 12 plekke in Australië kom beslis nie pasella nie. Die kwalifiseringsproses begin reeds volgende jaar met vyf streekkompetisies.
Die gekwalifiseerde lande is Suid-Afrika, Japan, Engeland, Frankryk, Ierland, Italië, Skotland, Wallis, Australië, Fidji, Nieu-Seeland en Argentinië.
Die volgende kwalifiseerders sal wees: Die topvier spanne van die 2025 Europese Rugbykampioenskap / Wenner van die 2025 Rugby Afrika-beker in Uganda / Wenner van die 2025 Asië-kampioenskap / Wenner van die 2025 Sudamerica-kampioenskap / Topdrie spanne van die 2025 Pacific Nations-beker.
Twee posisies bly dan oor. Een hiervan word bespreek wanneer die naaswenner van die Sudamerica-kampioenskap teen die laagste geplaaste span van die Pacific Nations-beker uitspeel.
Die finale kwalifiseringstoernooi (repechage) sal tussen vier spanne in een groep beslis word wat in ‘n rondomtalieformaat beslis sal word. Die span met die meeste kompetisiepunte sal die laaste beskikbare plek in 2025 kan bespreek.
Die vier spanne sal soos volg bepaal word: Derde geplaaste span van die 2025 Sudamerica-kampioenskap / Verloorder van die uitspeelwedstryd tussen die 2025 Sudamerica-kampioenskap en 2025 Pacific Nations-beker / Vyfde geplaaste span van die 2025 Europese Rugbykampioenskap. Die naaswenners van die 2025 Afrika-beker en 2025 Asië-beker sal ook uitspeel om een van die vier aanspraakmakers te bly.
Lotings van die ses groepe met vier spanne elk vir die 2027 WB Wêreldbeker in 2026 voor die Sesnasies-kampioenskap plaasvind.
Die nuwe formaat sluit 'n rondte-van-16 voor die kwarteindrondte in. Dit maak dit moontlik om die toernooi van sewe tot ses weke te verkort. Dit sal die ritme bevorder terwyl momentum in die groepfase opbou. Spanne sal dieselfde minimum aantal rusdae tussen wedstryde as tydens die 2023 Wêreldbeker kan geniet.

Die Afrika-resies
Namibië het nie in 1987 of 1991 aan die kwalifiserende rondtes van die eerste twee Wêreldbekers deelgeneem nie. Zimbabwe was beide kere die Afrika-kwalifiseerder, maar het elk van sy ses wedstryde verloor, met hul beste vertoning die nederlaag met 20-21 teen Roemenië in 1987 in Auckland.
In 1994 het ‘n Namibiese nederlaag teen Ivoorkus (12-13) vir die Wes-Afrikane die weg gebaan om in die daaropvolgende jaar se WB-toernooi in Suid-Afrika hul enigste verskyning te maak.
Hierna het Namibië (hoewel soms ook maar broekskeur) vir die volgende sewe WB-toernooie vanaf 1999 tot 2023 gekwalifiseer.
Verlede maand se Rugby Afrikabekertoernooi in Uganda was ‘n kleedrepetisie vir die bepalende 2025-weergawe met WB-kwalifiserende status. Zimbabwe (2024-wenner), Algerië (naaswenner), Namibië (derde) en Kenia (vierde) sal die vier topgekeurde spanne wees. Die Sables onder kapteinskap van skrumskakel Hilton Mudariki het die Algeryne in die eindstryd met 29-3 oorskadu, met heelagter Tapiwa Mafura wat as speler van die toernooi aangewys is.
[email protected]