Hoop vir Glasgow, wêreldranglys sal beste uit spelers haal

Rolbal
Tielman Van Lill
Die myndorp Orapa in Botswana is die bestemming vir Namibië se senior rolbalspan wat vanaf komende Maandag tot 26 September by die Afrika State-kampioenskap gaan woeker.
Die span wat vroeg Saterdagoggend vanaf Windhoek op die reis van 1 133 kilometer vertrek, is (vroue) Marietjie van den Bergh, Diana Viljoen, Elzaan de Vries, Bianca Lewis, Marinda Bezuidenhout, Elna Esterhuizen, (mans) Kat Steenkamp, Graham Snyman, Waylon Wentzel, Schalk van Wyk, Julian Viljoen en André Campbell.
Verlede jaar se Afrika Statetoernooi is in Windhoek by die Eros- en TransNamib-rolbalklub aangebied, voordat laasgenoemde intussen na sy huidige tuiste by Trustco United-rolbalklub in Olympia verhuis het.
Namibië se uitdagers is die gasheerland Botswana, Kenia, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe. Beide die mans- en vrouespanne sal aan enkelspel, parespel, driespel en vierspel deelneem.
Die kampioenskap is nie net vir die kontinent belangrik nie, maar vorm ook deel van die eerste Wêreldrolbalreeks wat alle internasionale spelers op sy ranglys sal plaas. Dit dien ook as 'n kwalifiserende geleentheid vir die 2026 Statebondspele in Glasgow, Skotland.
Anjuleen Viljoen, wat vroeër vanjaar as president van die Namibiese Rolbalvereniging by Michael Wells oorgeneem het, sê: “Die 2024 Afrika Statekampioenskap bring vyf lande – Botswana, Kenia, Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe – byeen vir ‘n spannende kompetisie van vernuf en sportmangees. Dis jammer dat die Zambiese span op kort kennisgewing moes onttrek.
“Die Vereniging dra ons gelukwensing en voorspoedwense oor aan elke speler wat gekies is om die land te verteenwoordig. Bring die goue medaljes huis toe!”
Namibië het verlede jaar vyf medaljes opgeraap, naamlik in die vroue vierspel (goud), mans vierspel (silwer), vroue pare (brons), vroue algeheel (silwer) en mans algeheel (brons).

Die ander spanne (waar beskikbaar)
Botswana: Tshenolo Moshokgo, Lesego Motladiile, Boikhutso Mooketsi, Marea Modutlwa, Mpopi Pelemo, Chinky Sinombe, Baven Balendra, Modisaotsile Mphotho, Kaizer Geche, Charles Diteko, Edwin Nyoka en Kabo Gaboutloeloe.
Kenia: Eunice Mbugua, Jedidah Maina, Fridah Mwangi, Nancy Cheruiyot, Celestine Masila, Chris Kimanga, Kjellan Awuor, Anwar Hamada, Joseph Kitosi en ames Ngugi.
Suid-Afrika: Marizellé Rousseau, Anneke Scheepers, Elinah Thabelo Muvhango, Dezi Rosenblatt, Esmé Kruger, Wayne Roberts, Sibusiso Molupi, Shaun Thomas, Niksa Benguric en Charles Mathewson.
[email protected]