Keanu skop agterente in die Drakensberg

Motorfiets-enduro
Deelnemers het 'n keuse tussen Goud-, Silwer-, Brons- en Yster-klas gehad om hul staal in die gopse soos Cathedral Peak te toon.
Tielman Van Lill
Die 18-jarige Keanu Weber van Windhoek het onlangs saam met 621 hardebaard-mededingers aan The Impi Hard Enduro-byeenkoms in Suid-Afrika deelgeneem.
Weber het nie sommer net deelgeneem nie, maar behoorlik stof in die oë van 364 ryers in die bronsafdeling geskop.
Op sy KTM het hy die kompetisie in die ysige noordelike Drakensberg oor twee dae en 122.9 kilometer in vyf ure 51 minute 31 sekondes gewen.
Hy het Timothy Byrnes (5:58:46, tweede) briljant met meer as sewe minute geklop. Tegan van Heerden het die derde plek in 6:04:53 opgeraap.
Keanu is ‘n aktiewe lid van die Namibiese Enduro-klub (NEC). Hy het reeds as vyfjarige onder die wakende oog van Jaco Husselman begin oefen en het spoedig sy talent gewys. Gou het hy sy klein motorfietsie vir ‘n 65 cc verruil, toe na ‘n 85 cc gevorder wat mettertyd deur ‘n 150 cc en uiteindelik ‘n 300 cc KTM vervang is.
Hy het sedert 2013 in elke klas van die NEC deelgeneem en in 2023 met die nasionale kampioenskap algeheel tweede in die pro-klas geëindig.
Keanu sê dit was nog altyd sy droom om in Suid-Afrika aan een van die ikoniese byeenkomste soos die Impi te gaan deelneem. Nou is sy droom met die hulp van Paul Koster van Ark Trading bewaarheid.
Keanu het Vrydag na Duitsland vertrek waar hy gaan studeer. Hoewel hy vir ‘n ruk vir Namibië verlore gaan wees, sal hy in Duitsland deelneem.
Die gewildste handelsmerke by die Impi was KTM (455 ryers), Husquvarna (93), GAS GAS (40) en Sherco (24).
Die voorste uitslae:
Goud-klas: 1 William-Waide Slater (9:18:46), 2 Heinrich Aust (9:51:29), 3 David Clark (10:12:35).
Silwerklas: 1 Callan Broskie (9:31:08), 2 Soren Petersen (9:46:34), 3 Reinier Swanepoel (9:53:06).
Ysterklas: 1 George White (5:43:45), 2 Francois Blignaut (6:31:41), 3 Donovan Allan (6:55:01).
Die Goud-klas het 20 deelnemers opgelewer, Silwer 139, Brons 365 en Yster 97.
[email protected]