Knortjorre haastig op Swakopmund

Motorsport
Baanrekords is in verskeie klasse opgestel tydens laas naweek se derde byeenkoms in die nasionale kampioenskapsreeks vir knortjorre (go-karts) wat op Swakopmund aangebied is.
Danksy die insette van beamptes van die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) is die byeenkoms by die kus baie suksesvol afgehandel.
In die jongste ouderdomsgroep (Bambino, 5 tot 9 jaar) het die sewejarige Russell Josephat die vorige vinnigste tyd wat deur Mila Botha opgestel was (34.78 sekondes) tot 34.1 verbeter.
Josephat, wat onlangs ook in die groter geselskap van die Suid-Afrikaanse kampioenskapsreeks opgang maak, het die Bambino-klas gewen en het elkeen van die drie uitdunwedrenne met ‘n reusevoorsprong van nagenoeg 19 sekondes gewen.
Met 105 punte na drie uitdunne het Josephat die eerste plek ingeneem, gevolg deur Gury Dos Santos (94) en Rocco van Eeden (91).
Verskeie ander ryers het ook nuwe baanrekords in hul onderskeie klasse opgestel.
Die wenners van die ander klasse was:
Kid Rock: 1 JP du Plooy (105 punte, baanrekord 30.36 sekondes), 2 Kristopher Koudelka (96), 3 Francois Gouws (90).
Mini Rok: 1 Cecil Koorts (105 punte, baanrekord 29.41 s), 2 Hermann Schouw (96), 3 Toni Rust (89).
Micro Max: 1 Nic Kruger (100), 2 Kristopher Koudelka (96 punte, baanrekord 29.49), Ned Hannam (94).
Mini Max: 1 Mandume Kaiyamo (98), 2 Cecil Koorts (97, baanrekord 28.5), 3 Malan Coetzee (85).
Senior Max: 1 Kobus Reyneke (105, baanrekord 26.88), 2 Kian Fussel (93), 3 Heinrich Roos (91).
DD2: 1 Zain Beuthin (97), 2 Nikita Thieme (93), 3 Ezequiel Dos Santos (83).
Die vierde byeenkoms in die reeks van agt sal op 14 en 15 Junie by Tony Rust-renbaan wes van Windhoek aangebied word.