Kroasië druk vrouespan harder
Hokkie
’n Gemotiveerde vrouehokkiespan van Kroasië het Namibië Dinsdagaand in die tweede wedstryd van hul drie binnenshuise toetswedstryde in Zelina tot ’n 1-1-uitslag beperk.Die Namibiërs het die eerste wedstryd met 4-0 oorheers, maar moes hierdie keer tevrede wees met 'n gelykoptelling.
Kroasië se Katharina Weserski het die gasheerspan in die tweede kwart laat voorloop, maar Namibië het ses minute later, net voor rustyd, teruggeslaan met 'n strafhoekhou deur Kiana-Che Cormack.
Nie een van die spanne kon in die derde of vierde kwartale enige verdere kanse benut nie.
Shayne Cormack, Namibië se afrigter, het agterna gesê haar span was aanvanklik effens verras deur die vasberade vroeë Kroatiese uitdaging.
“Ons het van die begin af gereken ons sal hard inklim, maar ons is op die agtervoet gevang. Ek dink dit het ons 'n bietjie ontstig.
“Ons het baie kanse gehad wat ons net nie afgerond het nie en dit is vir my 'n bietjie ontstellend. Ons het drie kort hoeke gehad; ons het net een doel aangeteken. Ons het nog goeie kanse verbrou.
“So, dit vertel 'n storie aan die einde van die dag. Ons sal regtig daarna moet kyk, want ons het die resultate in die doelsirkel nodig as ons wedstryde by die Wêreldbeker wil wen.”
Die afrigter reken Kroasië het nie teruggehou soos in wedstryd een nie, maar was bloot meer aanvallend ingestel.
“Ons moet beter aansluiting kan vind onder druk. Ons het goeie patrone, maar ons maak net nie verbindings soos ek dit wil hê nie. So hopelik kan ons môre (in gisteraand se derde en beslissende wedstryd) hierop verbeter.”
Ná die wedstryd het die doelwagter Petro Stoffberg gesê sy het waardering vir die verbeterde vertoning van Kroasië, wat die Namibiërs ook dwing om hul spelvlak te lig met die FIH Binnenshuise Wêreldbeker wat volgende week Maandag begin met 'n openingswedstryd teen Australië.
“Hulle was baie beter en het ons 'n goeie oefenlopie gegee. Hulle het vanaand ons verdediging en aanval behoorlik getoets, met verskeie aanvalle tot binne die doelsirkel en heelwat doelkanse.”
Stoffberg sê sy is “ongelooflik opgewonde” vir die FIH Wêreldbeker-toernooi.
"Ons is so dankbaar teenoor die regering wat ons reis moontlik gemaak het, vir ons om vir ons land te speel.”
Die Namibiese mans, ook op pad na die Wêreldbeker, se tellings in die gelykop opwarmreeks teen Kroasië was 5-5, 4-5 en 10-5.