Legacy of Love hou emosionele kersseremonie voor Desert Dash
Fietsry
Hierdie unieke inisiatief betoon nie net hulde aan geliefdes nie, maar bring ook werklike hoop en ondersteuning aan diegene wat deur trauma geraak word.
Soos in die verlede sal Legacy of Love vandag 'n sterk teenwoordiging by die Nedbank Desert Dash-ultrabergfietsmaraton met hul bekende fietsdrag hê en 'n kragtige boodskap aan mede-fietsryers en toeskouers stuur.“Die Legacy of Love-groep het vandeesweek hul jaarlikse kersseremonie vir liefde gehou. Dit was 'n besondere betekenisvolle geleentheid waar herinnering, dankbaarheid en die gemeenskap sentraal gestaan het," het Sybrand de Beer, trustee van Legacy of Love, gesê.
“Die hoogtepunt van die aand was die kersoorhandiging waar begunstigdes simboliese kerse ontvang het ter ere van hul geliefdes wat oorlede is. Hierdie kerse dien as ‘n baken van hoop en blywende herinnering aan diegene wat ons verloor het.
“Die verrassing van die aand was die onthulling van die nuwe Legacy of Love-fietsrydrag. Van die fietsryers het trots hul nuwe kleredrag ten toon gestel. Hierdie is nie net 'n simbool van hul toewyding nie, maar ook van die kragtige vennootskap tussen Legacy of Love en die Nedbank Desert Dash.
“Die aand was gevul met emosie en trane weens die verliese van geliefdes tot die fietsryers se opwinding oor hul komende reis van 401 km vandag en môre. Hierdie unieke inisiatief betoon nie net hulde aan geliefdes nie, maar bring ook werklike hoop en ondersteuning aan diegene wat deur trauma geraak word.
Dominee Zack Pienaar het die geleentheid geopen met 'n kragtige boodskap oor hoe om die "eerstes" ná die verlies van 'n geliefde te hanteer.
"Sy woorde het diep inslag gevind, beide as troos vir die treurendes en as inspirasie vir die fietsryers wat hulle op hul uitdagende reis voorberei het," het De Beer gesê.
Leander Borg, 'n organiseerder van die Nedbank Desert Dash en Gernot de Klerk het namens Nedbank ook motiverende boodskappe aan die ryers gelewer.
"Hierdie jaar is spesiale erkenning gegee aan die Nedbank Desert Dash en Nedbank vir hul deurlopende ondersteuning oor die afgelope vyf jaar. Trofeë van waardering is aan hulle oorhandig.
Verder is 'n sertifikaat van waardering aan Jaco Esterhuyse oorhandig wat die afgelope drie jaar aan die Legacy of Love-inisiatief deelgeneem het. Die Sagte Hart-trofee was aan agt fietsryers toegeken wat reeds vyf jaar deel van die Desert Dash is.
Die Legacy of Love-groep het vir die afgelope ses jaar amptelik aan die Desert Dash deelgeneem. "Hierdie unieke bergfietsbyeenkoms word gebruik om geld deur middel van skenkings van besighede en individue in te samel. Hierdie geld help om ons traumaprojekte aan die gang te hou.
“Die traumaprojekte behels troosbokse (comfort boxes) vir mense wat iemand aan die dood afgestaan het. Maatjiebanke (buddy benches) by skole bied emosionele ondersteuning vir kinders en 'n wegbreeknaweek vir gesinne wat geliefdes verloor het (grief retreat). Die jaarlikse kersseremonie vir liefde vind plaas net voor die Nedbank Desert Dash wegspring," verduidelik De Beer.
“Hierdie jaar se skenkings beloop tot dusver altesaam N$30 000. Die Legacy of Love-groep daag besighede en individue uit om deel van hierdie betekenisvolle liefdestaak te word. Saam maak ons 'n blywende verskil!”
Kontak Sybrand de Beer vir navrae oor die bankbesonderhede om skenkings te maak by [email protected].