Malan vier tweede MLR-triomf met ‘n drie vir Free Jacks

Rugby
Uit die ses gekontrakteerde Namibiërs in die 2024 MLR-seisoen het twee se spanne die eindstryd gehaal.
Andrew Poolman
Die VSA se Major League Rugby-seisoen het Sondag ten einde geloop – met twee Namibiese Wêreldbekerspelers aan teenoorgestelde kante van die twee spanne wat op die finaal vir die nasionale kampioenskap aanspraak gemaak het.
Divan Rossouw, gekies as buitesenter vir die Seattle Seawolves, het ‘n belangrike rol gespeel om hulle in nog ‘n MLR-eindstryd te kry, toe hy in die vorige naweek se eindstryd van die Westelike Konferensie (en nasionale halfeindstryd) as heelagter die deurslaggewende breekslag vir hul wendrie teen die Dallas Jackals gelewer het.
Vir die verdedigende kampioen, die New England Free Jacks, was die Namibiese agtsteman Wian Conradie op hul lys van verliese weens beserings, nadat hy vroeër die seisoen ná sewe wedstryde deur 'n knieoperasie uitgeskakel is.
Sy landgenoot Le Roux Malan was egter terug vir nog 'n MLR-eindstryd – nadat hy as binnesenter die wendrie gedruk het om hulle te help om die 2023-kampioenskap vir die eerste keer teen die San Diego Legion in Chicago met ‘n enkele punt te wen.
In laas Sondag se eindstryd op ‘n warm, sonnige dag in San Diego, Kalifornië, het Malan op uitstekende wyse hul enigste drie gedruk wat die Free Jacks op die wenpad help plaas het – om daarmee sy suksesvolle terugkeer ná die teleurstelling van sy gebreekte enkel by die 2023 Wêreldbeker in Frankryk af te handel.
Vir Malan se drie in die regterhoek het hy dit net-net reggekry om die bal in die doelgebied te plaas terwyl hy deur die lug geduik het en deur ‘n duikslag van die Seawolves se losskakel Mack Mason getref is.
Ironies genoeg het Malan in sy vorige 12 MLR-wedstryde hierdie seisoen sedert sy terugkeer geen drieë gedruk nie, teenoor sy bydrae van nege drieë in elf wedstryde in die vorige seisoen se triomftog.
Malan se direkte teenstander, Pite Lopeti wat vir die VSA Eagles binnesenter speel, is in die 51ste minuut met ‘n geelkaart afgestuur toe sy kop tydens ‘n hoogvat teen Malan se mond gekap het.
Die Free Jacks het uiteindelik met 20-11 gewen, met vyf strafdoele en ‘n doelskop deur hul kaptein, die Nieu-Seelandse losskakel Jayson Potroz, wat as die MLR-seisoen se voorste puntemaker eindig.
Die Seattle Seawolves en die Free Jacks het die gewone ligaseisoen met identiese rekords van elf oorwinnings en vyf nederlae afgesluit. Die Seawolves het geseëvier in die spanne se enigste ontmoeting vanjaar (29-21) in Quincy, Massachusetts, op 20 April.
Op die MLR se algehele statistieklyste vir die seisoen het Divan Rossouw boaan geëindig as die speler wat die verste met die bal gehardloop het, naamlik 1937. Hy was ook tweede as die mees gebruikte baldraer (154 keer) ná RFC Los Angeles se Fidjiaanse agtsteman Semi Kunabuli Kunatani (186 keer).