Manspan klim tot op Davisbeker se hoër wêreldverhoog

Tennis
Andrew Poolman
‘n Briljante uitslag vir Namibiese tennis is verseker toe die nasionale manspan hul bevordering na die Davisbeker Wêreldgroep Twee bespreek het.
Met net een laat, uitgeputte glipsie teen Zimbabwe – ‘n land met ‘n rykdom in ondervinding van Wêreldgroep Twee – het die Namibiese span nietemin boaan die puntelys van ses spanne in die pas afgehandelde Afrika Groep Drie in Nigerië klaargemaak.
Die top drie nasies by die Afrika Groep Drie-toernooi in Abuja het hul plekke bespreek, naamlik Namibië (eerste), Nigerië (tweede) en Zimbabwe.
Spankaptein Gerrie Dippenaar se doelwit wat vier jaar gelede gestel is, is uiteindelik verwesenlik met die prestasies van die 19-jarige Connor van Schalkwyk, sy broer Codie van Schalkwyk (22), die veteraan Jean Erasmus (33) wat sy uittrede ter syde gestel het en die 15-jarige vooruitsig Ruben Yssel.
Net een keer tevore (2018) het die Namibiese manspan die Afrika Groep Drie-kompetisie gewen, maar om een of ander rede het hulle nie die volgende jaar in Wêreldgroep Twee meegeding nie.
Op pad na die nuutste deurbraak het die Namibiese spannetjie die afgelope week hard gespook om opeenvolgende oorwinnings teen Ghana (3-0), die gasheerspan Nigerië (2-1), Benin (3-0) wat in daardie stadium ook die enigste onoorwonne was, behaal.
Vrydag se kragmeting teen Zimbabwe kon weens reën eers op ‘n tweede speeldag klaargemaak word, wat in ‘n naelskraapse 2-1 uitslag vir Zimbabwe geëindig het. Boonop moes die Namibiërs toe onmiddellik daarna ook hul kragmeting teen Ivoorkus afhandel en het met 3-0 gewen.
Zimbabwe het Saterdag/Sondag wraak geneem vir sy enigste glipsie in ses ontmoetings teen Namibië (laas jaar met 1-2 in Pretoria) toe Benjamin Lock met 6-1, 6-7, 6-3 die oorhand teen Connor van Schalkwyk gekry het.
Connor van Schalkwyk, Namibië se topgekeurde manspeler, het gedurende die toernooi sy string opeenvolgende oorwinnings in Davisbeker-enkelspelwedstryde indrukwekkend uitgebrei totdat hy hom teen die ervare Lock vasgeloop het.
Nadat hy in 2019 as ‘n 14-jarige sy debuut gemaak het, staan Connor se enkelspelrekord nou op 14 gewen en twee verloor. Hy is dus binne trefafstand van Tukhula Jacobs se nasionale rekord van meeste enkelspeloorwinnings (16W 10L).
Dippenaar sê: “Jean Erasmus (in sy terugkeer ná sy Davisbeker-loopbaan van 2008 tot 2019) het ook ‘n belangrike rol gespeel as bystand in die dubbelspel om vir Connor en Codie ruskans te bied. Ons almal kan rêrig baie trots op hierdie span se fantastiese prestasie wees.”

Groter geselskap
Die toernooi-uitslae in Davisbeker-Wêreldgroep Twee in middel September 2024 sal die samestelling van die trekking vir 2025 bepaal.
Vir konteks is die 24 tennislande in hierdie afdeling wat in September sal meeding (gasheer eerste): Roemenië (1) tn China, Hongkong tn Ecuador (2), Oesbekistan (3) tn Estland, Bulgarye (4) tn El Salvador, Barbados tn Pakistan (5), Togo tn Letland (6), Georgië tn Mexiko (7), Nieu-Seeland (8) tn Luxemburg, Tunisië tn Ierland (9), Libanon (10) tn Suid-Afrika, Marokko (11) tn Monaco, Bolivië tn Uruguay (12).
Dippenaar sê: “Stel jou voor ons kry ‘n trekking teen ‘n land soos Bulgarye en dat ons dalk ‘n topspeler soos hulle nommer een Grigor Dimitrov hier in Windhoek te sien kan kry."