Masilingi, Mboma betree saam nuwe era

Atletiek
Tielman Van Lill
Die volgende senior Wêreldatletiekkampioenskap begin oor 366 dae, vanaf 13 tot 21 September 2025 in Tokio, Japan.
Die skouspel is wel ’n jaar die toekoms in, maar vir elitevlak atlete wat van ’n knaende besering herstel, of nie werklik op peil is nie, kan twaalf maande gou in ‘n resies teen tyd ontaard.
Op die keper beskou, is ‘n hand vol Namibiese atlete talentvol genoeg om die internasionale kollig te betree.
• Beatrice Masilingi en Christine Mboma kan opnuut die Namibiese vlag in die 100 en 200 meter naellope laat wapper. Maar die twee kom mededinging op internasionale vlak kort om weer hul volle selvertroue en beste vorm te bereik.
• Daniel Paulus is ’n breker in die 5 000 en 10 000 meter en al wat hy kortkom, is internasionale mededinging in die twee dissiplines.
Paulus is die Namibiese rekordhouer in die marathon (2 ure agt minute 40 sekondes) en halfmarathon (1:01:10). Hy het vroeër vanjaar tydens die Vivo-byeenkoms in Windhoek Luketz Swartbooi se Namibiese 10 km-padrekord (27 minute 51 sekondes) manalleen met vyf sekondes tot 27:46 afgerond. Swartbooi se rekord het vir 30 jaar in die rekordboeke gestaan.
• Dan is daar Chenoult Lionel Coetzee (verspring), die onbesonge Gilbert Hainuca (100 en 200 m) en die 18-jarige vooruitsig Magano Naseb (100 en 200 m).
Coetzee het verlede jaar die Namibiese verspringrekord tot 8.27 meter gerek. Beserings het hom intussen van stryk gespring en hy kon nog nie weer dieselfde hoogtes bereik nie. Hy het in 2023 by die senior Wêreldkampioenskap in Boedapest ’n beskeie 7.55 m gehaal en in April vanjaar by die Namibiese kampioenskap 8.10 gespring.
Sy eerste bronsmedalje by die 2024 Afrika-kampioenskap sou hom wel weer heelwat selfvertroue gegee het.
Hainuca het by die 2024 Namibiese senior kampioenskap die 100-finaal in ‘n blitsige 9.86 sekondes kafgedraf, hoewel met ’n wind van 4.9 meter per sekonde in sy blaaie.
Indien hy aan genoegsame internasionale mededinging blootgestel word, kan hy hom meer gereeld in die geselskap van sneltreine soos Ferdinand Omanyala (Kenia), Letsile Tebogo (Botswana) en Akani Simbine (Suid-Afrika) bevind.
Naseb het by die 2024 Namibiese kampioenskap in die 200 meter met 20.95 sekondes vir die pas afgelope onder 20-wêreldkampioenskap in Lima, Peru, gekwalifiseer. Hy was toe net 17 jaar oud.
Ses weke voor die o.20-wêreldkampioenskap het hy ’n dyspierbesering opgedoen, wat beslis sy spoed en krag by die o.20-wêreldkampioenskap sou beïnvloed het.
Hy het in Lima met 22.14 sesde in die 200-uitdunrondes geëindig. Naseb is nog baie jonk, maar beslis ’n talent vir die toekoms. Wie weet, oor vier jaar kan hy die wêreld aan die brand hardloop.

Slim bestuur
Die kardinale belang van ‘n agent vir ’n atleet is pas deur Henk Botha, afrigter van Masilingi en Mboma onderstreep om internasionale blootstelling te kry.
Masilingi is reeds ’n geruime tyd by ‘n Amerikaanse sportagentskap, CLD Sports Global, terwyl Mboma onlangs haar kontrak met hulle geteken het.
Ná die vereiste hormoonbehandeling om natuurlike hoë testostoroonvlakke te verlaag, is beide Masilingi en Mboma se spier- en senuweestelsel verswak en hulle doen klaarblyklik makliker beserings op.
Die boek is nog nie geskryf hoe om die twee Namibiese sterre weer op hul vorige beste peil te kry nie.
Botha bly egter hoopvol dat die twee vanaf komende Desember die kwalifiserende standaarde vir die 100 en 200 vir die 2025 Wêreldkampioenskap kan takel.
“Ons het ’n wegbreek tot begin September gevat en dan gaan ons vir drie maande tot in Desember baie hard werk. Hulle kry in die feestyd ’n kort, maar steeds aktiewe blaaskans.”
Die kwalifiserende tye in die 100 en 200 vir die 2025 Wêreldkampioenskap is onderskeidelik 11.07 en 22.57 sekondes vir vroue. Mans (100, 10.00), (200, 20.16), (10 000 m, 27:00:00), (verspring, 8.27 m).
Atlete het vanaf 1 Augustus 2024 to 24 Augustus 2025 tyd om vir Tokio te kwalifiseer.
[email protected]