Muller, Malander deur na semifinale

Gevegskuns
Die kampioenskap plaas die beste van Afrika op vertoon.
Tielman Van Lill
Gemengde gevegskuns (MMA) se amateur IMMAF Afrika-kampioenskap bereik vandag sy semifinale by die Hybrid Fitness Centre in Windhoek.
Damian Muller, die verdedigende senior Afrika-vlieggewigkampioen (56.7 kilogram), het gister sy geveg in die kwarteindronde teen Maurio Silva van Angola gewen.
Muller het vanaf die eerste ronde oorheers. Hy het Silva in die tweede ronde op die krytvloer vasgepen en met ’n sarsie houe na die kop afgetakel. Die geveg is gestaak met ‘n tegniese uitklophou-beslissing (TKO) vir Muller se tweede sege in dié kampioenskap.
Silva was in 2023 die Afrika-kapokgewigkampioen (gewigsperk 61.2 kg). Omrede hy nog ‘n goue medalje in ‘n ander gewigklas by sy groeiende versameling van twee wou voeg, het hy besluit om gewig vir die vlieggewigafdeling te verloor.
Muller het Dinsdagaand in sy eerste geveg vir Jonathan Banda van Zambië uitgeskakel. Muller kan vandag in die semifinale teen een van Mafuano Mbungo (Angola), Daniel James (Suid-Afrika) of Obakeng Mahuru (Suid-Afrika) te staan kom.
Mbungo het Daniel Muleba van Zambië uitgeskakel, James vir Anele Chinembiri van Zimbabwe en Mahura vir Eliezer Makonda van die Demokratiese Republiek die Kongo.

Meer Namibiese uitslae
Jaden Iiyambo van Namibië het sy gister sy eerste senior liggewiggeveg (70.3 kg) van die kampioenskap in die kwarteindronde teen Ken Saleh van die DRK verloor.
Iyambo het moedig probeer, maar sy tekort aan ondervinding het ‘n TKO in die tweede ronde aan Saleh besorg.
In die senior kapokgewigklas (61.2 kg) het Mandume Kaukungwa gister sy debuut teen Sisa Jungula van Suid-Afrika in die kwarteindronde gemaak. Ongelukkig was Kaukungwa nie opgewasse genoeg vir ‘n oorwinning nie.
Festus Djuulume het gister sy ontmoeting met Bryn Gwavava van Zimbabwe in die senior veergewigklas (65.8 kg) verloor. Djuulume het goed vertoon en kan in die toekoms namate hy ontwikkel medaljes vir sy land verower.
In die laaste geveg vir die dag waar ‘n Namibiër in aksie was, het die senior weltergewig Quinnservando Malander sy geveg teen Bernard Chisenga van Zambië (77.1 kg) gewen.
Malander het sy teenstander in die eerste sekondes van die tweede ronde met ‘n uitklophou neergevel. Die Namibiër lyk na ‘n gevaarlike kalant wat dopgehou moet word.
Een van Tyrone Platt (Suid-Afrika), Aron Bingo (Demokratiese Republiek die Kongo) of Tulunda Daniel (Angola) sal vandag vir Malander in die semifinaal wag.

Kamwi en Bock wen brons
Die geskiedkundige eerste IMMAF Afrika jeugkampioenskap is reeds Dinsdag afgehandel.
In die 57 kg-afdeling het Shange Kamwi vir Namibië teen Yasin Edwards van Suid-Afrika, Yessu Juca van Angola, Claudio Fontoura van Angola en Cihan Geyer van Suid-Afrika in die kryt geklim.
Fontoura en Juca vat onderskeidelik goud en silwer huis toe.
Adriano Bock het in die strooigewigafdeling (52.2 kg) teen Paulo Afredo van Angola, Patrick Abanda van Kameroen en Leonildes Cangombe van Angola geveg.
Alfredo het goud gewen, terwyl sy spanmaat, Cangombe, die silwermedalje opgeraap het.
Kerrith Brown, president van die Internasionale Mixed Martial Arts Federation (IMMAF), sê: “Ons is trots daarop om nog 'n IMMAF-kampioenskap na Afrika te bring. Dis 'n sewe jaar lange verbintenis tot die ontwikkeling van gemengde gevegskuns oor alle sektore op die vasteland.
“Behalwe om die grootste vertoonstuk vir amateurvegters na Afrika te bring, sal ons voortgaan om skeidsregters, afrigters en vegters te bemagtig. Dis die pilare wat noodsaaklik is vir die voortdurende ontwikkeling van 'n ekosisteem vir MMA in Afrika.”
Veja Hinda en Geraldo Bok wat potensiële medaljewenners vir hul land by die kampioenskap kon wees, is nie in die Namibiese span ingesluit nie. Hinda was Namibië se eerste Afrika-vlieggewigkampioen.
Vegters van die gasheerland, asook Angola, DRK, Egipte, Ghana, Kameroen, Nigerië, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe is by die toernooi in aksie.
Die semifinaalgevegte is vandag en die finale môre. Die Hybrid Fitness Centre is by die ou RCC Roads Authority terrein in Lazarettstraat, wat nou as NPTH bekend staan.
[email protected]