Namibiese atletiek in perspektief ná flou vertonings

Atletiek
Die Namibiërs het uiteraard hul bes gelewer, maar gemeet aan die res van Afrika is die land se baan- en veldatlete ver agter.
Tielman Van Lill
Namibië se deelname aan die 23ste senior Afrika-atletiekkampioenskap by die Japoma-stadion in Douala, Kameroen, moes ‘n groot ontnugtering vir die sportkode se nasionale beheerliggaam gewees het.
Teen die res van Afrika se room het die land se atlete ver te kort geskiet om hul stempel op die kontinentale verhoog af te druk.
Lionel Coetzee het sy eerste Afrika-silwermedalje in die verspring behaal, terwyl Ryan Williams vir die tweede opeenvolgende Afrika-kampioenskap die brons in die diskusgooi ingepalm het.
Coenraad Kühn het wel nie ‘n medalje verower nie, maar die jong yster het die Namibiese gewigstootrekord tot 17.65 meter aangestoot.
Nie een individuele naelloper van 100 tot 400 meter kon ‘n finaal haal nie. Sadé de Sousa en Christine Mboma het wel vir die 100-semifinale gekwalifiseer, maar het nie goed vertoon nie. Mboma is ook in die 200-semifinaal uitgeskakel (vyfde).
In die 100 vir mans is Gilbert Hainuca, Hatago Murere en Gregor Appols in die uitdunne uitgeskakel. Murere en Elvis Gaseb is deur na die 200-semifinale, maar Murere het nie weggespring nie en Gaseb het nie vir die finaal hand opgesteek nie.
Die 400 meters vir beide geslagte was teleurstellend. Die vroue wat in Douala vir dié item aangetree het, moes geensins daar gewees het nie. Gemeet aan die mansatlete soos Mahmad Bock en Ivan Geldenhuys se tye in die verlede, was hul mededinging dié keer ver benede peil.
David Dam het Namibië in die 800-uitdunne verteenwoordig. Hy kon nie teen Afrika se langasems kers vashou nie en is uitgeskakel deur die manne wat tussen 1 minuut 45.59 sekondes en 1:47.00 aangeteken het.

Chaos bring CAA onder die loep
Die hopelose bestuur van die kampioenskap het daartoe gelei dat Kamal Badru Juma, president van die Mosambiekse Atletiekvereniging, 'n beroep op die Konfederasie van Afrika-atletiek (CAA) se leierskap onder Hamad Kalkaba Malboun gedoen het om te bedank. Malboun dien ook as visepresident van die CAA se suidelike streek.
Soortgelyke chaotiese reëlings wat in Douala ontvou het, het tydens die 2018 Afrika-kampioenskap in Asaba, Nigerië, geheers. Dit het daartoe gelei dat die uitslae van die kompetisie deur Wêreldatletiek geskrap was.
Internasionale topatlete soos Marie-Josée Ta Lou-Smith (Ivoorkus), Favour Ofili en Rosemary Chukwuma (beide Nigerië) en Shaun Maswanganyi (Suid-Afrika) het weens die chaos aan die kampioenskap onttrek.

Die Namibiese uitslae
Vroue 100 meter (uitdunne) – Sadé de Sousa (Q, 11.83); Christine Mboma (Q, 11.97), Ndawana Haitembu (12.09). Semifinale: Sadé de Sousa (vierde, 11.53); Christine Mboma agtste (12.06).
Mans 100 m (uitdunne) – Gilbert Hainuca (10.53); Hatago Murere (10.61); Gregor Appols (10.94).
Vroue 200 m (uitdunne) – Mboma (Q, 24.12); Jade Nangula (24.58); Johanna Ludgerus (25.87). Semifinale Mboma vyfde (24.37).
Mans 200 m (uitdunne) – Hatago Murere (Q, 21.45); Elvis Gaseb (Q, 21.22). Semifinale: Gaseb (4de, 21.21); Murere (DNS).
Vroue 400 m (uitdunne) – Napuumue Hengari (58.07); Kazaatjo Kambiri (58.25); Tuuliki Angala (58.25).
Mans 400 m (uitdunne) – Elvis Gaseb (47.58); Ivan Danny Geldenhuys (48.22): Elton Hoeseb (48.57).
Mans 400 m-hekkies uitdun – André Retief (51.47).
Vroue 4x100 m-aflos uitdun – Namibië (Q, 45.55). Finaal vyfde (45.74).
Mans 4x100 m-aflos uitdun – Onesmus Nekundi, Elvis Gaseb, Hatago Murere en Gilbert Hainuca behaal 39.09 (nasionale rekord) en kwalifiseer vir die finaal, waar hulle vierde eindig in 39.82.
Gemengde 4x400 m-aflos – Mahmad Bock, Elton Hoeseb, Tjitua Kuhanga en Ivan Geldenhuys (3:28.90) dring deur tot die eindwedloop wat gisteraand teen Nigerië, Kenia, Kameroen, Senegal, Ethiopië, Zambië en Botswana sou wees.
Vroue 800 m (uitdunne) – Tuuliki Angala (2:10.28).
Mans 800 m (uitdunne) – David Dam (1:48.40).
Mans driesprong finaal – Roger Haitengi agtste (15.56 m).
Mans gewigstoot finaal – Coenraad Kühn (sesde, 17.65 m, nasionale rekord).
Mans diskusgooi (finaal) – Ryan Williams (derde, bronsmedalje, 56.78 m).
Mans verspring – Lionel Coetzee 7.55 m in uitdun; dring deur tot finaal, waar hy 7.78 m spring en die silwermedalje inpalm.
[email protected]