Namibië raak agter in eendagreeks

Krieket
'n Minder ervare Namibiese senior krieketspan doen tans waardevolle ondervindig in 'n tuisreeks op.
Tielman Van Lill
Namibië se krieketspan het Vrydag hul tweede 50 boulbeurtwedstryd in die Castle Lite-reeks teen die Punjab-toerspan van Indië met 87 lopies verloor toe hulle vir 169 lopies in 43.3 boulbeurte uitgeboul is.
Die Richelieu Eagles het 257 lopies vir ‘n oorwinning by Wanderers in Windhoek gejaag, maar Mayank Markande met vyf paaltjies vir 22 lopies in 9 boulbeurte het te veel skade aangerig.
Punjab het 256 almal uit in 48.2 boulbeurte in die eerste kolfbeurt aangeteken. Pukharaj Mann het die meeste lopies vir Punjab behaal met 73 van 103 balle. Hy het drie viere en twee sesse na die grenstou gejaag.
Ramandeep Singh het heelwat meer aanvallend gekolf aan sy 33 van slegs 17 aflewerings, wat twee viere en drie sesse ingesluit het.
JC Balt het 3 paaltjies vir 53 in 10 boulbeurte vir Namibië geneem, terwyl Ben Shikongo, Junior Kiriata en Bernard Scholtz twee paaltjies elk geneem het.
Balt met 26 lopies van 65 balle, JJ Smit (21 van 51), Tangeni Lungameni (21 van 27) en JP Kotzé (19 van 18) was die Eagles se voorste lopiemakers.
Die Eagles sal môre om 09:30 in die vierde 50 boulbeurte-wedstryd van die Castle Lite-reeks by Wanderers teen Punjab te staan kom.
Namibië het die eerste wedstryd Woensdag met drie paaltjies by dieselfde veld verloor.
Die huidige tuisreeks dien vir die Eagles as ‘n oorskakeling vanaf die onlangse T20 Wêreldbeker na die eendagformaat, waar hulle binnekort ‘n toer na Skotland aanpak vir ‘n driehoekige mini-toernooi wat ook Oman insluit, as deel van die 2023-2027 ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks.
Afrigter Pierre de Bruyn gee terselfdertyd ook blootstelling aan spelers soos die aanvangskolwer Lo-han Louwrens, wat van ‘n onlangse operasie sy terugkeer maak, asook die jonger geslag soos JC Balt, Dylan Leicher, Junior Kariata, Alexander Volschenk, Simon Shikongo en Zacheo van Vuuren.