Nederland onthul jong kolfvonds voor Wêreldbeker

Krieket
Michael Levitt en Sybrand Engelbrecht se aanvallende kolfbeurte vir Die Oranje het die uitslag buite Namibië se bereik geplaas.
Tielman Van Lill
Nederland het ’n vonds soos min in die aanvangskolwer Michael Levitt, wat gister met ’n reusagtige honderdtal die verskil gemaak het in die internasionale T20-wedstryde teen Namibië in Kirtipur, Nepal.
Levitt is 20 jaar oud en het dié week sy T20I-debuut gemaak deur ’n vyftigtal teen Nepal aan te teken (54 van 36 balle).
Gister was die blondekop aanvangskolwer selfs nog beter op dreef met 135 van net 62 balle teen die Richelieu Eagles.
“Dit was van die beste trefhoue wat ek in my lewe nog gesien het. En om te dink dis maar sy tweede internasionale T20-wedstryd,” het Nederland se kaptein Scott Edwards agterna gesê. Edwards het die kolfvennootskap met Sybrand Engelbrecht as sesnsasioneel beskryf.
Nederland se monstertotaal (247 vir 5 in 20 boulbeurte) het die Namibiërs (188/7 in 20) met 59 lopies in die eerste van hul twee T20-ontmoetings oordonder.
Dit was die eerste eensydige uitslag in die driehoekige reeks tussen Namibië, Nederland en Nepal (al drie kwalifiserende spanne vir die ICC T20 Wêreldbeker in Junie) en dus ’n groot antiklimaks vir die Eagles en hul ondersteuners.
Behalwe swak boulwerk deur die Eagles-boulers, het die Namibiese kolwers ongelukkig geen antwoord op die Nederlandse boulaanval gehad nie. Die Eagles het net vier ekstras afgestaan, maar verder wou niks anders in hul guns uitwerk nie.

DIE ORANJE AANSLAG
Die Nederlandse offensief het sy kolfgrofgeskut se korrel eers in die vyfde boulbeurt behoorlik ingestel nadat Ruben Trumpelmann in die derde vir Max O’Dowd (5 lopies) op 15/1 laat terugstap het.
Dit was die Vlieënde Hollanders se laaste verlies tot in die 18de, toe Nicol Loftie-Eaton die verwoestende Michael Levitt van ’n Jan Frylinck-aflewering uitgevang het.
Intussen het Levitt saam met nommer drie Sybrand Engelbrecht ongehinderd ’n gedenkwaardige 193-vennootskap van 79 balle gemoker. Levitt het Nederland se vinnigste T20I-honderdtal nóg van sy 49 aflewering behaal.
Hy sluit sy briljante kolfbeurt met 135 lopies af wat 21 grenshoue insluit (62 balle, 11x4, 10x6). Hy het die Eagles se nuweling-draaibouler PB Blignaut met 26 lopies in die 17de gestraf.
Ná sy vertrek met Nederland op 208/2 ná 17.2 bb, het sy opvolgers die tempo aangestoot en 39 lopies van 16 balle behaal. Scott Edwards op vier (4 lopies) is in die 19de vir 209/3 uitgevang, maar Engelbrecht se breë kolf het aanhou flits totdat hy in die 20ste vir 75 van 40 b (7x4, 5x6) van Ben Shikongo se boulwerk uitgevang is (Nederland 241/3).
Teja Nidamanuru het net drie balle ontvang, wat hy almal vir sesse geslaan het (18 lopies) voor hy uitgehardloop is (Nederland 243/5).
Nederland slaan altesame 38 grenshoue (20 viere, 18 sesse), terwyl Namibië met 25 (13x4, 12x6) geantwoord het.
Blignaut was Namibië se duurste bouler (0/39 in 2, ekonomie 19.5 per boulbeurt) gevolg deur Bernard Scholtz (0/43 in 3, ekon. 14.33), Jan Frylinck (1/57 in 4, ekon. 14.25), Trumpelmann (2/46 in 4, ekon. 11.5) en Loftie-Eaton (0/32 in 3, ekon. 10.66).
Ben Shikongo het net een paaltjie gevat, maar hy was verreweg Namibië se beste bouler op die dag (1/28 in 4).

VEREISTE TEMPO BUITE BEHEER
Met ’n stywe koers van reeds meer as 12 per boulbeurt om mee te begin, het dit nie lank geduur vir die vereiste kolftempo om algaande buite die Namibiërs se bereik te glip nie.
Teen die tyd dat nommer agt Zane Green (42 nie uit nie van 20 b, 4x4, 3x6), Frylinck op vyf (42 van 27 b, 3x4, 2x6) en Trumpelmann op sewe (19 van 14 b, 1x4, 2x6) ingestap het, was daar feitlik nie meer salf te smeer aan die onafwendbare nederlaag nie.
JP Kotzé op drie (26 van 15 b, 3x4, 2x6) het ook belowend begin en die kaptein JJ Smit het dreigend gelyk met twee sesse en ’n vier in sy 19 van agt balle, maar die druk het in die guns van Nederland meegewerk.
Roelof van der Merwe (1/44 in 4) en Fred Klaassen (1/33 in 3) was met 11 per boulbeurt die duurste Nederlanders. Die draaier Aryan Dutt (1/32 in 3, ekon. 10.66) en Engelbrecht (1/20 in 2, ekon, 10) was ietwat beter. Die naatboulers Timm van der Gugten (2/26 in 4, ekon. 6.5) en Vivian Kingma (1/26 in 4, ekon. 6.5) het vir Nederland uitgeblink.

STAND VAN SAKE
Ná twee T20i-wedstryde met een sege teen Nepal en een verloorstryd teen Nederland, is die Eagles met ’n netto lopietempo van minus 0.975 ’n kortkop voor Nepal.
Nepal het die afgelope week beide hul eerste twee kragmetings teen Namibië en Nederland verloor. Hul netto lopietempo op minus 0.550 kan die Rhinos nog in die voet skiet. Maar hulle sal teen Namibië ’n totale lopieverskil van meer as 30 moet bewerkstellig om die bordjies te verhang.
Die trotse Eagles sal sekerlik vandag moet sorg dat die Rhinos – altyd propvol aggressie met die kolf – opnuut hokgeslaan word.
Die Eagles speel vandag vanaf 07:45 hul laaste van twee kragmetings teen Nepal. Sondag sal Nederland volg (vanaf 07:45) vir hul laaste ontmoeting voor die finaal op 5 Maart.
[email protected]