NIIHA-spanne as 'n verrysende wêreldkrag erken

Inlynskaatshokkie
Andrew Poolman
Die Namibiese Ys- en Inlynskaatshokkievereniging (NIIHA) se nasionale manspan het internasionale respek afgedwing met hul vierde plek by die pas afgelope World Skate-wêreldkampioenskap wat in Roccaraso in Italië aangebied is.
Nadat die Namibiese span vooraf 21ste op die ranglys was, het hulle vriend en vyand verras om eers die kwarteindstryd en daarna die semifinaal te haal. Boonop was hulle een van die mees jeugdige spanne in die toernooi.
Hul opwindende opgang in die toernooi het meegebring dat vele internasionale waarnemers hulle as ‘n neutrale “tweede” span begin volg en ondersteun het.
Namibië word inderdaad toenemend as 'n verrysende krag in die sport bestempel.
Vir afrigters Nadia Schmidt en Trevor Cormack se span het sake op ‘n moeilike noot begin toe Switserland hulle in die openingswedstryd met 3-1 geklop het.
Die Namibiërs het egter in hul ander twee groepwedstryde die pap dik aangemaak om vir China met 19-1 en daarna vir Frankryk met 5-4 te verslaan.
Hul plek in die kwarteindronde was daarmee bespreek, waar hulle Swede met 2-1 geskok het.
In die semifinaal het die Tsjeggiese Republiek sy kaarte reg gespeel om met 5-2 te wen en na die eindstryd teen die VSA te vorder.
Namibië wou graag op ‘n hoë noot afsluit, maar in die bronsfinaal was die gasheerland Italië se span op sy stukke en het met 3-1 gewen.
“Dinge het rof begin, maar ná die nederlaag in die openingswedstryd het ons besluit om ons spanwerk op te knap, eerder as om soos individue mee te ding,” het afrigter Schmidt in ‘n onderhoud gesê.
“Ons het soos ‘n familie vir mekaar begin speel en geleenthede vir mekaar begin skep.”
Schmidt het waardering vir die suksesvolle wyse waarop sy Trevor Cormack se vorige ondervinding van groot toernooie kon inspan. As afrigter van die Namibiese manshokkiespan wat by die binnenshuise wêreldkampioenskap die topagt gehaal het, het sy geweet hy het waardevolle insette te lewer om op die regte aspekte te fokus namate die toernooi vorder.

Mans en vroue
Ewe goeie blootstelling is aan die afgelope maand in Italië aan NIIHA se nasionale junior manspan gebied, wat in die sewende posisie ter wêreld klaargemaak het.
Aan die vrouekant het die Namibiese juniors met die bronsmedalje teruggekeer deur die uitspeelstryd om die derde plek met 5-4 teen Italië te beklink, terwyl die senior vroue vyfde geëindig het.
Die toerspanne is deur SPAR Namibia geborg.