Ná die Tara is Tony Rust die volgende spoedpunt

Langbaanrenne
Langbaanrenne maak ná meer as drie maande 'n welkome terugkeer by Tony Rust.
Tielman Van Lill
Windhoek-motorklub bied Saterdag die tweede ronde van die nasionale langbaankampioenskap by die Tony Rust-renbaan wes van die hoofstad aan.
Met herinneringe nog vars van die Tara-tydren wat twee weke gelede afgehandel was, kan geharde adrenalienvrate opnuut die teerbaan aandurf.
Pieter Greeff, die Bisschoff-broers, Hein en Ewald, asook Zachary Martin, wat almal ook aan tydrenne deelneem, sal nou hul volle aandag op die 2.4 kilometer resiesbaan kan vestig.
Die Klas D-afdeling was met die vorige byeenkoms propvol aksie. Greeff, Michael Strydom en André Havenga het die pap lekker dik aangemaak, terwyl Mark Sternagel, Michael Rust en Hein Bisshoff die toeskouers met pure plesier vermaak het. Dit sal welkom wees indien MP Pretorius met sy blitsige Golf ook weer vir ‘n slag ‘n draai by die resies kom maak.
Die eerste ronde van die Namibiese kampioenskap is reeds op 2 Maart afgehandel en die dag is met immer gewilde sleeprenne afgesluit.
Hopelik is Mark Sternagel, Martin, die Bisschoff-broers, Michael Rust, Clive Strydom, Greeff, André Havenga, Michael Strydom, Craig Bisschoff, Jordan Izaaks en Bazill van Rhyn gereed om hul ondersteuners te vermaak.
Die eerste ronde van die nasionale kampioenskap se uitslae was soos volg:
Supermotors: 1 Mark Sternagel (vinnigste baanrondte 63.83 sekondes), 2 Zachary Martin (68.93).
Klas B: 1 Michael Rust (72.58), Hein Bisschoff (76.05).
Klas C: Clive Strydom (77.75), 2 Ewald Bisschoff (78.55).
Klas D: 1 Michael Strydom (78.25), 2 André Havenga (79.75), 3 Pieter Greeff (79.99).
Klas F: 1 Craig Bisschoff (88).
Klas X: Jordan Izaaks (94.63).
Die hekke by Tony Rust maak om 09:00 vir motorsportliefhebbers oop en toegang is N$80 per persoon, terwyl persone onder 18 jaar net N$50 betaal. Pensioenarisse kan die aksie kosteloos gade slaan.
Die oefen- en kwalifiseringsrondtes begin om 12:30 en die eerste van drie renne oor agt rondtes spring teen 14:00 weg. Om in te skryf vir die sleeprenne wat 18:00 begin, kos N$250.
[email protected]