Ná Omaruru is Sorendal volgende vir veldryers

Enduro
Die agtste ronde van die nasionale enduro-kampioenskap word aanstaande maand by Sorendal by Elisenheim gehou.
Tielman Van Lill
Die sewende rondte van die nasionale enduro-motorfietskampioenskap was Saterdag met groot entoesiasme naby Omaruru afgehandel, waar 29 deelnemers in hul onderskeie klasse die ruwe terrein aangepak het.
Quinton van Rooyen, Jörn Greiter, Brandon Juling, Hilmar Griebel, Harry Kibble, Maike Bochert en Peter Till het volpunte ingesamel en hul onderskeie klasse oorheers.
Die enduro-kampioenskap gaan nie oor spoed nie, maar hoe vaardig die ryer ‘n tegniese gedeelte van die verskeie roetes kan baasraak. Ryers takel klimme oor baie steil koppies, reuserotse en nou en ‘n gedeelte deur ‘n sanderige rivierbedding en ‘n stuk deur die oop veld waar die krane vir spoed oopgedraai kan word.
Ryers moet by verskeie transmissiesenders op die roete stop as ‘n bevestiging dat hulle die hele roete voltooi het.
Van Rooyen, Corné Visser en Stuart Pearce het mekaar goed opdraande in klas 2 gegee. Weens meganiese probleme kon Pearce slegs twee van die vier rondtes voltooi, terwyl Van Rooyen en Visser al vier voltooi het.
In klas 5 het Greiter, Gunther Gladis en Gernot Bahr mekaar met mening die stryd aangesê. Greiter het eerste sy drie rondtes voltooi, met Gladis tweede en Bahr derde.
Klas 7 is deur Brandon Juling oorheers, terwyl André Barnard bykans drie minute ná hom ingeklok het. Stephan du Plessis het teenspoed gekry en het slegs een uit drie rondtes voltooi.
In klas 10 was die kompetisie vuurwarm met tien ryers wat gretig was om hul vernuf ten toon te stel. Zoë Waldschmidt het opnuut geen tree vir die mans in dié afdeling teruggestaan nie en het na vyf rondtes tweede ná Hilmar Griebel geëindig. Die derde plek is deur Willem van der Merwe ingeneem.
Harry Kibble was eerste in klas 11 ná drie rondtes, gevolg deur Max Heigan met Cody Heigan derde.
Klas 12 is ‘n afdeling waarin vroueryers ontwikkel word. Ongelukkig was Maike Bochert die enigste ryer, maar dit het haar nie veel geskeel nie en sy het gewys hoe sy die afgelope tyd gegroei het. Maike is ook ‘n motocross-ryer wat gereeld teen Zoë jaag.
Peter Till was die solo-ryer in die beginnersklas, maar het die tegniese roete gemaklik baasgeraak. Dalk is Till oor ‘n paar seisoene ‘n gesoute ryer in een van die hoër afdelings.

Die voorste uitslae:
Klas 2: 1 Van Rooyen (3 ure 13 minute 32 sekondes), 2 Visser (3:14:53), 3 Pearce (nie klaargemaak nie, DNF).
Klas 5: 1 Greiter (2:33:53), 2 Gladis (2:49:06), 3 Bahr (3:03:11).
Klas 7: 1 Juling (3:08:58), 2 Barnard (3:11:48), 3 Du Plessis (DNF).
Klas 10: 1 Griebel (2:34:09), 2 Waldschmidt (2:48:20), 3 Van der Merwe (2:53:01).
Klas 11: 1 Kibble (36 minute 59 sekondes), 2 Max Heigan (48:37), 3 Cody Heigan (55:15).
Klas 12: 1 Bochert (1:30:41).
Beginners: 1 Till (1:02:39).
Die kampioenskap word ondersteun deur Hemco Paint, Sonja Becker Real Estate, Omaruru Spar, Terrain Tamer 4WD Africa, Venture Enterprises, SocialFly Creative Agency, Safari Engineering CC en Nahara Africa.
Die agtste ronde van die nasionale enduro-kampioenskap sal aanstaande maand by Sorendal by Elisenheim gehou word.
[email protected]