O.13-talent vir toer na RSA gekies

Krieket
Gillmer Horn het uitstaande kolfwerk in die nasionale week gelewer, terwyl Tiaan du Plessis die meeste paaltjies geneem het.
Tielman Van Lill
Krieket Namibië het vandeesweek sy nasionale o.13-span (geborg deur Walvis Bay Salt ) aangekondig wat vandag na Pretoria vir deelname aan Krieket Suid-Afrika se nasionale provinsiale toernooi vertrek.
Die Namibiese onder 15-span sal in Benoni in aksie wees, terwyl die nasionale o.19-span in Bloemfontein gaan toer. Namibië se o.20-welpies sal op 2 Januarie 2025 na Kaapstad vir ‘n toernooi vertrek.
Krieket Namibië sê hulle streef om in elke span drie topordekolwers, drie middelorde kolwers/veelsydige speler, drie naatboulers, twee draaibalboulers, een paaltjiewagter en een genomineerde hoëprestasiespeler te hê.
Die dertien spelers in die o.13-span is JW Junius (draaibalbouler), Gillmer Horn (topordekolwer/paaltjiewagter), Natie la Cock (draaibalbouler), Wiseman Dangarembizi, Michael Hangula, Daniel Fourie (veelsydige spelers), Joss Zondag (wegbreekbouler), Kobus Engelbrecht, Tiaan du Plessis, Piet Boltman, Christiaan Potgieter en Jacobus Boltman (al vyf naatboulers), De Witt Bergh (kolwer).
Tussen die vier deelnemende streekspanne in die afgelope Walvis Bay Salt nasionale o.13-week in die hoofstad het die Sentraal Wit-span (drie gewen) onoorwonne afgesluit om op die puntelys bo Sentraal Blou (twee gewen), Noorde (een gewen) en die Kus (nul gewen) klaar te maak.
Sentraal Blou (197 almal uit in 42.2 boulbeurte) het egter die eindstryd teen Sentraal Wit (179 almal uit) met 18 lopies beklink. Die speler van die wedstryd was JW Junius (Blou) met 3/30 in nege boulbeurte.
Gillmer Horn (Sentraal Blou, 255 lopies, gemiddeld 85.0; kolftempo 140.8; hoogste telling 106; twee vyftigtalle) was die topkolwer by die o.13-krieketweek.
Volgende op die lys van lopiemakers was JW Junius (94 lopies vir Sentraal Wit; gemiddeld 31.33; kolftempo 74) en Wiseman Dangarembizi (Sentraal Wit; 73 lopies), Natie la Cock (Sentraal Wit; 72 lopies) en Michael Hangula (Kus, 71 lopies).
Tiaan du Plessis (12 paaltjies vir Sentraal Blou) het die pas aangegee by die boulers, voor sy spanmaat Joss Zondagh (nege paaltjies), JW Junius (Sentraal Wit, sewe paaltjies) en Christiaan Potgieter (Noorde, sewe paaltjies.
Justus Hangula sal die seuns afrig, terwyl Yolanda van Heerden die spanbestuurder is.
Die o.15-span sal na verwagting vandag aangekondig word en die o.19’s moontlik later.
[email protected]