Oefengroep gee blik op Allister se visie en opsies

Rugby
Die dae word afgetel voor die stryd teen die Vodacom Blou Bulle op 29 Junie.
Andrew Poolman
Die omvangryke verlies aan ervaring behoort kommerwekkend te wees in die verkleinde nasionale Welwitschias oefengroep wat die laaste dae aftel voordat hulle op Saterdag 29 Junie in ‘n vriendskaplike wedstryd in Windhoek teen die Vodacom Blou Bulle opgeweeg word.
Met die opsies tot afrigter Allister Coetzee se beskikking is reeds in onderhoude laat deurskemer dat die klem grootliks op plaaslik gebaseerde spelers sal val en dat betreklik min van die land se oorsese gekontrakteerde spelers beskikbaar sal wees vir die Bulle-wedstryd, asook vir die groot toets teen Portugal op 13 Julie.
Uit laasjaar se Wêreldbeker-groep van 33 spelers is net 12 spelers vandeesweek in die groep wat hulle op die Bulle-wedstryd instel.
Coetzee behou ‘n positiewe ingesteldheid vir die komende weke, wat ook die Afrikabekertoernooi in Uganda sal insluit en wat volgens hom as die wegspringpunt moet dien om Namibië se kerngroep ter kwalifisering vir die 2027 Wêreldbeker behoorlik te smee.
Hy het gevolglik heelwat van vanjaar se nasionale o.20-span ook betrek, hoewel die jongspan by die Rugby Afrika Barthes-toernooi in Zimbabwe nie teen die gedugte gasheerspan óf teen Kenia kon wen nie.

Beseerdes en afwesiges
In sleutelposisies sal Coetzee graag spelers wil sien hand opsteek in die afwesigheid van die ervare kern wat deur die vele spelers verskaf kon word wat tans nog as beroepspelers in die VSA, Frankryk, Roemenië, Japan en Suid-Afrika onbeskikbaar is.
Op die lys van beseerdes is byvoorbeeld ook die losvoorspeler Wian Conradie (uit vir die seisoen ná ‘n knieoperasie) van die New England Free Jacks in die VSA, die Cheetahs se haker Louis van der Westhuizen (kniebesering), Grootfontein se stut Nelius Theron (skouerbesering) en Wanderers se haker Obert Nortje, wat hoop om betyds reg te wees nadat hy in ‘n onlangse klubwedstryd ‘n tussenribspier beseer het.
Oor die volgende weke hoop Coetzee om soveel speeltyd as moontlik aan soveel spelers as moontlik te bied wat hy hoop die land se kwalifiserende WB-veldtog vir Australië 2027 suksesvol sal kan afhandel.
Die senter Johan Deysel, wat in drie Wêreldbekers gespeel en in die laaste twee die toerkaptein was, het onlangs vanaf Colomiers in Frankryk terug na sy familietuiste in Windhoek verhuis en ‘n paar klubwedstryde vir Wanderers gespeel.
Deysel asook slot Tjiuee Uanivi, wat by geleentheid as die afloskaptein diens gedoen het, se name verskyn nie in die nuutste oefengroep nie.
Coetzee verwag dat senior spelers soos Prince !Gaoseb, Danco Burger, Adriaan Booysen en Johan Retief die leiding sal verskaf.
Met losskakels soos Cliven Loubser (in die VSA) en Tiaan Swanepoel (in Japan) ook nog nie in die prentjie nie en André van der Berg ook van Wanderers op pad na USA Limoges in Frankryk, wil dit lyk asof Danco Burger sy kans in die 10-trui teen die Bulle mag kry.
“Met min tyd tot ons beskikking is ek tevrede met ons vordering op die oefenveld. Spelers wat uit die groter groep gelaat is, is beslis steeds nie uit die prentjie wat die pad betref wat voor ons lê nie,” sê Coetzee.
Die oefengroep:

Stutte: Jason Benade (Unam), Herschell van Wyk (Wanderers), Desiderius Sethie (Unam), Otja Auala (Unam, Namibië o.20), Renard Hatting (Grootfontein), Ian Klitzke (United, Namibië o.20), Chemigan Beukes (Juvenia Krakow in Pole), Haitembu Shikufa (Luiperds).
Hakers: Obert Nortje (Wanderers), Wikus Jacobs (Grootfontein), Armand Combrinck (WP o.20, Namibië o.20), Edward Drotsky (Rehoboth, Namibië o.20).
Slotte: Mahepisa Tjeriko (Unam), Diamando Tjombe (Unam), Johan Retief (Wanderers), Ruan Ludick (Chatres in Frankryk).
Losvoorspelers: Prince !Goaseb (Wanderers), Cameron Langenhoven (Kudus), Peter Diergaardt (Wanderers)
Johan Luttig (Grootfontein), Adriaan Booysen (geen klub), Minyoi Kistings (Unam, Namibië o.20)
Skrumskakels: Jacques Theron (Wanderers), AJ Kearns (Unam), Jahno du Plessis (United).
Losskakel: Danco Burger (Wanderers, ook senter).
Senters: Hilian Beukes (Rehoboth), Alcino Isaacs (Unam), Natie van Rensburg (Wanderers).
Vleuels: Lloyd Jacobs (Kudus), Quirione Madjiedt (Unam), Nandi Karuuombe (Wanderers), Shareave Titus (Unam).
Heelagters: Oela Blaauw (UJ, ook skrumskakel), Denzo Bruwer (RC Lechia Gdansk in Pole, Wanderers), Lorenzo Louis (United).
• Nog vyf Namibië o.20-spelers wat steeds saam oefen, is haker Ferion Beukes en slot William Lottering (Wanderers), senter Xavier Mouton (United), vleuel Jurgen Meyer (Wanderers) en heelagter Ashton van Wyk (Reho Falcon).