Old Boys en Wanderers wen vir oulaas in groepfase
Krieket
Die eerste krieketspanne van ATG WHS Old Boys en APS Wanderers het Saterdag hul laaste groepwedstryde in die T20-premierliga teen onderskeidelik CCD Tigers en Trustco United gewen.Dit was die sesde en laaste ronde van Krieket Namibië se 2024 T20-premierligaseisoen alvorens die finaal gistermiddag tussen Old Boys en Wanderers by dieselfde krieketveld beslis was.
Old Boys en Wanderers het elkeen vyf uit ses wedstryde ingepalm en gelyk boaan die punteleer met 20 punte geëindig. In hul direkte kragmetings het elkeen een gewen en een verloor.
Tigers en United het elk een wedstryd teen mekaar gewen.
Old Boys (134 vir die verlies van 4 paaltjies in 20 boulbeurte) het Tigers (124/7 in 20) met tien lopies geklop. Die speler van die wedstryd was Old Boys se Faf du Plessis, met 36 lopies van 35 balle (3x4) en 2/26 in 4 boulbeurte.
Wanderers (187/5 in 20) het vir United (36 almal uit in 14.3) met 151 lopies oorskadu. Nyasha Nyashadzaishe (Wanderers) was die speler van die wedstryd, nadat hy ‘n vyftigtal van net 19 balle geslaan het.
In sy onoorwonne 84-vennootskap vanaf boulbeurt 15.2 met Karl Birkenstock (25* van 25 balle, 2x4) was Nyasha die aggressor wat erge straf in die laaste boulbeurte van Handre Klazinga (29 lopies), Addo Iita (22) en Nico Pieters (17) uitgedeel het.
Voorste lopiemaker vir elke span
Old Boys: Adriaan Coetzee (48 van 44 balle, 3x4, 3x6).
Tigers: Joshuan Julius (41 van 37 b, 4x4, 1x6).
Wanderers: Nyasha Nyashadzaishe (64 nie uit nie van 22 b, 4x4, 6x6).
United: Erik Lintvelt (19 van 16 b, 3x4).
Topbouler vir elke span
Old Boys: Henry Olivier (2 paaltjies vir 17 lopies in 3 boulbeurte, ekonomie 5.67 per boulbeurt).
Tigers: Salomon Nuuyoma (2/29 in 4, ekon. 7.25).
Wanderers: JC Balt (2/2 in 2.3, ekon. 0.8).
United: Markus van Heerden (2/19 in 3, ekon. 6.33).
Premierliga Twee afgehandel
Wanderers se tweede span het gisteroggend op hul tuisveld die T20 Premierliga Twee-eindstryd teen Pro-Ed Old Boys met agt paaltjies oorheers.
Vir die kusspan (162/6 in 20 bb) het Ben Brassell (56 van 49 balle, 5x4 2x6), Marco Malan (28 van 17 balle) en Tiaan van der Westhuizen (22 van 19 balle) die meerderheid van hul lopies bygedra.
Douglas Truter (1/22 in 4) was Wanderers se mees ekonomiese bouler, terwyl Tiaan van der Merwe 2/43 in 4 geneem het.
Vir Wanderers het hul lopiemasjien Wessel Myburgh (85 nie uit nie van 55 balle, 8x4 4x6) van die begin af ingeklim, met ondersteunende rolle deur Tiaan van der Merwe (30 van 25 balle, 3x4 1x6) en Danie van Schoor (33 nie uit nie van 24 balle, 3x4 1x6).