Oman maak sy stem dik in derde wedstryd

Krieket
Die vierde en vyfde wedstryde sal deurslaggewend in die reeks wees.
Andrew Poolman
Wanneer jy ‘n wedstryd met so ‘n groot verskil verloor, is dit nie altyd dadelik ooglopend wat om daaruit wys te word nie, het kaptein Gerhard Erasmus gister gesê nadat sy Namibiese Richelieu Eagles met agt paaltjies deur Oman in Al Amarat oordonder is.
Oman hou na dese ‘n voorsprong van 2-1 in die reeks van vyf internasionale T20-wedstryde.
Nadat die toerspan ingestuur is om eerste te kolf en deurentyd onder druk was voordat hulle op 101 vir agt afgesluit het, het die Midde-Oosterse span met vryheid en flair gekolf om die oorwinning binne net 11.1 boulbeurte te beklink.
“Die rede kan neerkom op (die Oman-span se) persoonlike trots en vasberadenheid om die momentum van die reeks in hul guns te swaai,” het Erasmus agterna gesê.
“Kolftoestande was sover iin die reeks nie maklik nie, maar ‘n telling van skaars 100 is ook nie juis verdedigbaar nie. Wanneer jy tweede kolf en so ‘n lae totaal moet jaag, is dit heel moontlik vir iemand om uit te stap en sy kolf te swaai en vinnig lopies te kry.”
Die Namibiese kaptein is gevra of eksperimentering tans ‘n rol speel in die reeks waarin beide spanne as kwalifiseerders opbou na die T20 Wêreldbeker in Wes-Indië en die VSA, waar hulle juis ‘n groepwedstryd teen mekaar sal hê.
“Elke internasionale T20-wedstryd is ‘n saak van trots. Ons kies dus elke keer ‘n span met die doel om te wen, maar ons het ook ‘n jonger, minder ervare span hier wat geleenthede kry wat aangegryp kan word vir die toekoms.”
Malan Kruger (2) en JP Kotze (18) se aanvangsvennootsakp het nie lank gehou nie en Erasmus op drie is ook vir 15 deur die bouler Aqib Ilyas uitgevang (17 balle).
Jan Frylinck (22 van 28 balle), Zane Green (5) en David Wiese (2) het vergeefs probeer om die tempo te versnel, terwyl Ruben Trumpelmann ‘n mate van sukses behaal met 26 van 20 balle (vyf viere).
Hierteenoor het Oman veel minders stres ondervind terwyl hul speler van die wedstryd, paaltjiewagter Naseem Khushi (66 van 40 balle) met ses groot sesse en drie viere baljaar het. Uiteindelik is hy na 10.3 boulbeurte uitgevang toe JP Kotze ‘n entjie van die grenstou af vorentoe moes duik.

VOLGENDE
Die twee spanne pak mekaar vandag in wedstryd 4 en Sondag in die vyfde en laaste wedstryd. Die wedstryde word regstreeks op die ToyTube-kanaal SportsEye gebeeldsend.