Op sy beste kan Dam deur beter tydgrense breek

Atletiek
Net 2.80 sekondes skei Namibië se voorste 800-mansatleet van die Olimpiese Spele.
Tielman Van Lill
Die besonder talentvolle David Dam, wat oorspronklik van Omaruru kom, is Namibië se enigste senior atleet wat tans werklik in die 800 meter kan presteer.
Hoewel die 25-jarige Dam gereeld die 800 en 1 500 plaaslik oorheers, beskik hy tans nie oor genoeg spoed, vaartversnelling en krag om internasionaal te kompeteer nie.
Op kontinentale vlak kan hy ook nie by die voorste langasems kers vashou nie.
Hy het die ideale, tipiese liggaamsbou vir ’n langafstandatleet. Dam kort egter ’n spesialis-afrigtingspan om sy volle potensiaal saam met ’n krag- en kondisioneringsafrigter, ’n biokinetikus en dieetkundige te ontgin.
Volgens die statistiek op sy Wêreldatletiek-bladsy het Dam as 19-jarige sy eerste amptelike senior 800-wedloop in April 2017 in Windhoek gehardloop. Hy het sesde in 1 minuut 57.24 sekondes geëindig.
In Januarie en April 2018 het hy onderskeidelik 1:57.94 (Swakopmund) en 1:53.08 (Windhoek) in die 800 behaal. Indien die tydmeting korrek was, het Dam (toe 20) binne ’n jaar met 4.16 sekondes op sy vorige beste 800-tyd verbeter.
Sy tyd vir die 1 500 in April 2018 (4:04.28) was glad nie sleg nie.
Vir enige afrigter sou die verbetering van 4.16 sekondes in die 800 die beste nuus in die wêreld gewees het om sy atleet aan te spoor. Maar Dam (toe 20) het weens onbekende redes die 2019-atletiekseisoen heeltemal gemis en eers weers in Maart 2020 in Swakopmund die 800 (1:55.50) en 1 500 (3:57.16) gehardloop.
Sy 3:57.16 op seevlak het aan hom ’n massiewe sprong van 7.12 sekondes teenoor 2018 besorg. Kenners sou kon reken Dam is vir groter dinge bestem. Maar hy kon in die res van 2020 net 4:03.20 en 4:01.01 in Windhoek behaal.
Gemeet aan 2018 se tyd, was sy tye vir die 800 in 2020 ewe teleurstellend met geen verbetering (1:53.08) teenoor sy tyd van 2018 nie. In die hoofstad haal hy (toe as 21-jarige) in Oktober en November onderskeidelik 1:55.86 en 1:56.33.
In 2021 het Dam (toe 22) totaal gestagneer. Moontlik het hy nie afrigting ontvang nie en indien daar ’n afrigter was, het die persoon weens onkunde nie geweet wat om te doen nie. Dam moes toe in die afgelope drie jaar reeds positiewe ontwikkeling getoon het.
Tydens Maart en April 2021 behaal hy 1:53.64 en 1:52.91 in Oshakati en Windhoek. In dieselfde tydperk en dorpe hardloop hy die 1 500 in 4:04.28 en 3:58.63.
2022 was sekerlik Dam (toe 23) se beste jaar onder die afrigting van Bethold Karumendu in Omaruru. Hy behaal in April in Potchefstroom en Germiston 1:51.43 en 1:52.12 en volg dit in dieselfde maand in Gaborone met 1:48.63 op. Op Sasolburg in Mei teken hy 1:50.60 aan en by die Afrika-kampioenskap in Mauritius hardloop hy 1:49.62 (vyfde) in sy uitdun en haal die halfeindwedloop, waar hy uitgeskakel word (1:52.13, agste).
Sy 1 500-tye vir 2022 is 3:56.93 in Swakopmund en 3:56.14 in Germiston. Sy 1:48.63 en 3:56.14 is tot 2024 sy persoonlike beste tye vir die twee dissiplines.
Volgens Dam se 800-vertoning die afgelope naweek in Oshakati, lyk dit of hy besig is om vordering te toon. Sy tyd van 1:47.50 is sy persoonlike beste nóg vir die 800, wat sy voorkeuritem is.
Sy vooruitsigte sal waarskynlik eers werklik later in die seisoen beter beoordeel kan word. Dit sal hartseer wees as dié begaafde atleet nie tot sy volle potensiaal kan groei nie.
Beter kompetisie en mededinging vandeesmaand by die Afrika-spele in Ghana is net die regte medisyne om die beste in hom na vore te bring. Die uitdunne is op Maandagaand 18 Maart, met die finaal die volgende aand.
Vanjaar het Dam tot dusver die 1 500 in 3:58.10 afgelê (Swakopmund) en die 800 met 1:50.46 (Windhoek) en 1:49.23 (Rietfontein) afgeblits.
In Afrika kook die volgende toptien mansatlete vir 2024 in die 800. Hul internasionale ranglysposisie vir 2024 word in hakies geplaas.
1 Abdelati El Guesse (5de, 1.45.28) Marokko.
2 Mohamed Ali Gouaned (7de, 1:45.35) Algerië.
3 Tshepiso Masalela (13de, 1.45.56) Botswana.
4 Koitatoi Kidali (14de, 1:45.72) Kenia.
5 Alex Kipngetich (17de, 1:46.01) Kenia.
6 Noah Kibet (20ste, 1:46.09) Kenia.
7 Alfred Kipketer (44ste, 1:46.86) Kenia.
8 Collins Kipruto (49ste, 1:46.88) Kenia.
9 Cornelius Tuwei (49ste, 1:46.88) Kenia.
10 Alex Amankwa (52ste, 1:46.92) Ghana.
David Dam se 1:47.50 plaas hom as die 93ste vinnigste atleet oor die 800 sover vanjaar. Om vir die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, te kwalifiseer, moet hy 1:44.70 of vinniger hardloop.
Sy vordering in die 800 oor die afgelope sewe jaar:
22 April 2017 (1:57.24) Windhoek.
21 April 2018 (1:53.08) Windhoek.
7 Maart 2020 (1:55.50) Swakopmund.
18 April 2021 (1:52.91) Windhoek.
30 April 2022 (1:48.63) Gaborone.
2 Maart 2024 (1:47.50) Oshakati.
Karumendu het Dam tot aan die begin van 2023 afgerig voor hy by die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) vir opleiding aangesluit het. Dit het ’n onderbreking in sy sportloopbaan meegebring en Dam het verlede jaar aan geen amptelike kompetisie deelgeneem nie.
Dam is op die oomblik in Windhoek gestasioneer en hardloop onder die vaandel van die NCS-atletiekklub. Erwin Naimhwaka hou ’n ogie oor Dam se oefenprogram in Karumendu se afwesigheid.
[email protected]