Opwindende atletiekseisoen vir 2025 voorspel

Atletiek
Topatlete sal vanjaar etlike kompetisies gebruik om vir die Wêreldkampioenskap te slyp.
Tielman Van Lill
Wêreldatletiek se eerste Diamantliga-byeenkoms sal vanjaar op 26 April in Xiamen, China, by die Egret-stadion plaasvind.
Letsile Tebogo van Botswana, die wêreld en Afrika se voorste mansatleet, het bevestig dat hy met sy voorbereiding vir die Wêreld-atletiekkampioenskappe by dié kompetisie sal begin. Hy sal sy plek in die wegspringblokke vir die 100 meter-naelloop volstaan.
Tebogo het die goue medalje by die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, in die 200 meter met 19.46 sekondes opgeraap. Sy 19.46 is ’n Afrika-rekord sowel as ’n nasionale rekord vir Botswana.
Met sy reusevertonings verlede jaar het Wêreldatletiek Tebogo as sy mansatleet vir 2024 gekroon. Hy het tydens Diamantliga-byeenkomste die 200 m in Monaco, Lausanne, Silesië en Zürich gewen asook die 100 m in Rome. By die Diamantliga-finaal in Brussel, België, het hy tweede in die 200 m geëindig.
Yaroslava Mahuchikh van die Oekraïne is nog ’n Olimpiese kampioen van 2024 wat Xiamen in haar visier het.
Sy is ’n driemalige Diamantliga-hoogspringkampioen. Haar prestasies verlede jaar sluit ’n wêreldrekord met 2.10 meter in wat sy in Parys, Frankryk, behaal het.
Mahuchikh het in 2024 oorwinnings by Diamantliga-kompetisies in Stockholm, Lausanne en Zürich verseker voordat sy haar derde agtereenvolgende Diamantliga-trofee met goud in Brussel by die Diamantliga-finaal behaal het.
Sy sal haar byeenkomsrekord van 2.02 m in Xiamen uitdaag.
Julian Alfred van Saint Lucia is nog 'n 2024 Olimpiese kampioen wat vir Xiamen bespreek het. Sy het onderskeidelik goud en silwer in die 100 en 200 by die Olimpiese Spele in Parys gewen. Sy sal op 12 Junie en 15 Junie die 100 in beide Oslo en Stockholm hardloop.
Vanjaar se Diamantliga-reeks bestaan uit 14 byeenkomste met die finaal op 27 en 28 Augustus in Zürich, Switserland.

DATUMS VIR DIE 2025-REEKS:
26 April – Xiamen, China
3 Mei – Shaoxing, China
16 Mei – Doha, Katar
25 Mei – Rabat, Marokko
6 Junie – Rome, Italië
12 Junie – Oslo, Noorweë
15 Junie – Stockholm, Swede
20 Junie – Parys, Frankryk
5 Julie – Eugene, VSA
11 Julie – Monaco
19 Julie – London, Brittanje
16 Augustus – Chorzów, Pole
20 Augustus – Lausanne, Switserland
22 Augustus – Brussel, België
Japan sal vanjaar se Wêreld-atletiekkampioenskappe vanaf 13 tot 21 September in Tokio aanbied. Meer as 2 000 atlete van 200 lande sal daar in aksie wees.
[email protected]