Para-atlete en jeug kompeterend in Afrika
Triathlon
Jerome Rooi, wie se been geamputeer is, is met Afrika-goud erken.
Namibië het Saterdag twee bronsmedalje by die Afrika Triathlon-kampioenskap in Nelson Mandelabaai in Suid-Afrika se Oos-Kaapprovinsie losgeslaan.Maja Brinkmann was derde in die junior vroueresies (750 meter swem, 20 km fietsry, 5 km hardloop) wat sy in 1 uur 07 minute 22 sekondes voltooi het.
Net die Suid-Afrikaanse paar Kadence Ribbink (1:05:36) en Lome Gouws (1:06:27) was voor haar, met die Namibiër wat tweede ná die swemskof geplaas was. Die voorste drie was meer as twee minute voor die res.
Nadat Brinkmann by die 2023 Junior Statebondspele in Trinidad en Tobago ook ‘n bronsmedalje verower het, is sy toenemend ‘n ernstige mededinger op internasionale vlak.
Nathan Chase was die derde atleet oor die eindstreep van die junior mansresies, wat ook deur sterk inskrywings van Suid-Afrika oorheers is. Chase (58 minute 40 sekondes) was in ‘n taai stryd teen die wenner Anthony Clayton (57:46) en Nicholas Horne (58:19) van Suid-Afrika. Adrien Toulet van Mauritius was vierde (59:02).
Matt Reece Izaaks (15de; 1:04:12) en James Langford (18de; 1:05:19) was ook in die boonste helfte van die kompetisie waarin 37 van die 40 junior mansinskrywings klaargemaak het.
• In die jeugklas (14-15 jaar) het Namibië se bestes Micah Chase (tweede), Emma Brinkmann (derde) Fynn Middleton (vierde), Kyra Marshall (negende) en Lillian Marshall (tiende) ook gister hul opgang gewys in hul resies oor 150 m swem (verkort vanaf 375 m, weens onstuimige water), 10 km fietsry en 2.50 km hardloop.
• Saterdag het die twee Paralimpiese atlete Jerome Rooi (eerste) en Matheus Angula (derde) ook hul kompeterende slag op Afrika-vlak gewys.
Rooi, wie se linkerbeen geamputeer is, ding mee in die PTS2-kategorie en het die 750 m swem, 20 km fietsry en 5 km hardloop in een uur 25 minute 24 sekondes voltooi.
Angula, wat geen onderste ledemate het nie, was derde in sy PTWC-kategorie ná ‘n moedige stryd van een uur 42 minute 22 sekondes. Dit was maar Angula, ‘n ervare swemmer, se tweede deelname aan ‘n driekamp en hy het 'n sterk verbetering aangeteken.
Die toergroep is deur afrigters Adele de la Rey (jeuggroep), Naomi Schmit en Guilhermina Eduardo (Paralimpiërs) vergesel.