Planne vir opheffing van skolerugby gesmee

Skolerugby
Otis Daniels
Die laaste rondte ligawedstryde in die Standard Bank Namibi? hoërskolerugby (NSSR) o.19 premierliga vind Saterdag plaas en die puntestand kan verander met die twee topposisies asook die vierde posisie op die spel.
Die twee Khomas-spanne Samsung WHS en King Price Windhoek Gimnasium voer opnuut die botoon en is vir 'n tweede opeenvolgende jaar die top twee geplaaste spanne op die punteleer. Albei spanne is sover onoorwonne, met goeie diepte en uitstaande afrigtingstrukture.
Albert Arries, sekretaris van die NSSR, sê die opvatting dat die standaard van skolerugby gestagneer het, kan as akkuraat beskou word.
Die syfers van deelnemende skole, spanne wat inskryf en gevolglik spelers per liga is die afgelope jare reeds op ‘n kommerwekkende afwaartse kurwe.
“Daar is verskeie faktore wat hiertoe aanleiding gegee het. Die Covid-19-pandemie het 'n impak gehad. Die enkele skolespanne wat buite die land kan speel en blootstelling aan mededingende rugby kry, speel ook ’n rol hier in.”
Arries wys daarop dat die twee topspanne in die o.19-premierliga die enigstes is wat vanjaar buite die landsgrense gaan toer het.
“Die prestasie van net hierdie twee spanne is nie noodwendig ‘n bepalende faktor nie. Die feit dat hulle blootstelling gekry het, laat egter die spelers toe om ervaring op te doen en sodoende die algehele gehalte van hul spanne te verbeter. Dit het beslis ’n uitwerking op die twee skole se vertonings in die liga.”
Hy sê enige speler wat vir dié twee skoolspanne speel én vir die nasionale span gekies is, kan teen die einde van die seisoen tot 20 wedstryde gespeel het.
“Die helfte van hierdie wedstryde kan teen internasionale opposisie wees. Hierdie tipe ervaring is van onskatbare waarde vir die liga. Sou meer spanne die finansiële bystand vind om dit te kan doen, sal dit die algehele kwaliteit van die liga ondersteun. Dit sou selfs meer voordelig wees indien sulke blootstelling vanaf onder 14-vlak kan plaasvind.”

Leerskool
Arries erken dat Namibiese skole se vlak afsteek in vergelyking met Suid-Afrikaanse skole.
“Skole in die buurland (RSA) het uiters vinnig ontwikkel tot 'n meer professionele opset in vergelyking met ons. Zimbabwe, Uganda en Kenia haal ons ook in op die internasionale verhoog. Die belegging en administratiewe opset in hierdie lande het verbeter en hulle het die struikelblokke wat hulle gehad het, oorkom.”
Vanjaar het die NSSR wel 'n tweede o.16-span na die Rhino Week-toernooi in Suid-Afrika gestuur. “Ons hoop om dieselfde vir die onder 18- en 19-spanne te doen. Dit sal voorsiening maak vir groter diepte in ons nasionale opset en ook die vlak van ervaring by ons spelers en afrigters opbou,” het Arries aangevoer.
Volgens hom is een aspek waarop die NSSR kan en moet verbeter, die behoud van spelers en identifisering van talent. “Ons streef aktief na die skepping van 'n beter platform wanneer dit kom by streek- en nasionale spankeuses saam met die Namibiese Skolesportunie (NSSU) en die Namibië Rugbyunie (NRU).”
Hy reken Namibi? benodig meer spanne om die o.14- en o.15-ligas te betree, wat die pyplyn na die o.19 premierliga ondersteun.
“Ons ondersoek ook die moontlikheid vir ‘n stroombelyning wat ons o.16- en o.18-spelers kan toelaat om in die senior Junie-Julie-toetstydperk ook aan 'n Nasiesbekertoernooi deel te neem wat ooreenstem met die Afrikabeker waarin ons senior manspan meeding.”
Arries sê die NSSR het 'n aanlyn spelerregistrasiestelsel ingestel en ook 'n databasis van spelers geskep.
“Ons het na raming 1 800 geregistreerde spelers wat in ons ligasmeeding . Hierdie data is van onskatbare waarde vir die toekoms van rugby. Dit laat ons toe om spelers se vordering te bepaal en dit bied ook 'n gesentraliseerde stelsel vir administrasie. Die NRU sal ons ook bystaan met die samestelling van inligting oor die posisies en biodata van spelers. Dit sal die Unie weer in staat stel om spelers na ons toekomstige o.20-spanne en verder op te roep.”