Proteas bobaas in onlangse tweestryd

Varswaterhengel
Tielman Van Lill
Die Namibiese Varswateroewerhengelvereniging (NFBAA) het onlangs met die jaarlikse Streek 5-toetsreeks sy Suid-Afrikaanse eweknie by Hardapdam buite Mariental ontvang.
Die nasionale onder 19-span en die NFBAA se penkoppe (o.13-span) het teen Suid-Afrika se o.19-Proteas en die penkoppe van die Suid-Afrikaanse Varswateroewerhengelfederasie (SAFBAF) gehengel.
Die spanne het op die Sondag en Maandag kans gehad om tydens die twee amptelike oefendae met Hardapdam kennis te maak.
Die eerste, tweede en derde toets was onderskeidelik op die Dinsdag, Woensdag en Donderdag beslis wat al drie deur die o.19-Proteas opgeraap was. Die Suid-Afrikaners het die eerste toets met 12 punte teenoor Namibië se 18 oorheers, die tweede met 9-21 en die derde met 12 teen 18 beklink.
Die Proteas wen dus die toetsreeks 3-0 teen die gasheerspan.
Suid-Afrika se penkoppe het ook in die jongste afdeling die kompetisie met 3-0 ingekatrol.
Dag een se telling was 11 punte teenoor die 19 van Namibië, dag twee 10-20 en dag drie 13-17.
Die NFBAA het gesê: “Ongelukkig kon ons Namibiese spanne nie die toer wen nie. Die uitslag klink nie so vleiend nie, maar die Suid-Afrikaners is baie goed.
“Wat ons wel dalk kan sê, is dat die jong Namibiërs baie ondervinding opgedoen het, soveel meer geleer het en uiteraard nuwe vriende gemaak het.
“Die NFBAA bedank graag al die borge wat die toer moontlik gemaak het.”
Die borge is ITR Namibia, Ry en Kry Slaghuis, CSV Construction, Agra, Hosch Butchery, Feona Gabrielsen, Pharmacy @ Lady, Pink Petal Flowers and Hampers, Citi Produce, Gawie van Wyk, Affie Plaas, CIC, Anticor, Marsh Insurance, 4x4 and More, Easy on Angling, Spar, Dahp, Namibia Off-Road Academy, Paul Steyn Auction, Bo-Jan Werke, Elsabé Engelbrecht, Ian Copley, Pan African Sales en CRP.
[email protected]