Ringe op die lyf nie meer taboe

Paralimpiese Spele
Tielman Van Lill
Atlete met sigbare tatoeëermerke van die Olimpiese ringe was tot nou toe summier verbied om aan die kompetisie deel te neem, op grond van ‘n regulasie wat enige soort bemarking aan atlete se lywe verbied.
Kort voor die 2024 Paralimpiese Spele in Parys, het die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPC) egter aangekondig dat Paralimpiese atlete met tatoeëermerke van die Olimpiese ringe nie meer verplig is om dit gedurende hul kompetisie te bedek nie.
In 'n berig Vrydag deur The New York Times, is Craig Spence, die hoofhandelsmerk- en kommunikasiebeampte van die IPC, per e-pos aangehaal: "Atlete met sulke tatoeëermerke hoef dit nie meer te bedek nie.”
Hy het geen verdere verduideliking vir dié U-draai in die vasgestelde beleid gegee nie.
Die 2024 Parys-organiseerders het geskiedenis gemaak toe hulle besluit het om dieselfde embleem vir beide die Olimpiese Spele en Paralimpiese Spele te gebruik. Albei geleenthede deel ook dieselfde gelukbringers en fakkelontwerp.
Die IOC en IPC bly egter steeds afsonderlike organisasies met verskillende kentekens as handelsmerke.
Die reël wat die sigbaarheid van die Olimpiese ringe-tatoeëring tydens kompetisie verbied, in ooreenstemming met die IPC se advertensiebeleid, is die eerste keer by die 2012 Paralimpiese Spele in Londen ingestel, maar is nie deurentyd ten volle toegepas nie.
In Londen is die Amerikaanse swemmer Rudy Garcia-Tolson nie gediskwalifiseer nie en het hy sy silwermedalje in die 200 meter individuele wisselslag behou – al het die ink waarmee hy sy Olimpiese ringe-tatoeëermerke bedek het weggewas toe hy in die swembad gespring het.
Nege jaar later, in April 2021, is hy egter aanvanklik gediskwalifiseer in dié dissipline in 'n byeenkoms voor die Paralimpiese Spele in Tokio nadat die ink wat sy tatoeëermerk bedek het tydens sy wedloop afgewas het, maar ná appèl is hy weer toegelaat.
Garcia-Tolson was nog altyd van mening die reël moet verander. Ná sy kwalifisering vir die 2004 Athene Spele, was hy 16 jaar oud toe hy (met toestemming van sy ma) die Olimpiese ringe op die agterkant van sy linkerskouer laat aanbring het.
Hy het in Griekeland die goud in die 200 individuele wisselslag gewen. Die vyfmalige Paralimpiese medaljewenner, wat nou 35 is, sal nie in Parys deelneem nie, maar oorweeg 'n terugkeer na die 2028 Spele in Los Angeles.
[email protected]